Vers n dag - 3 Augustus 2012
Titel: Swaarkry
Francois Sieberhagen
En Hy het vir die mens gesê: Om die Here te dien, dit is wysheid, om die kwaad te vermy, dit is insig.” Job 28:28
Wanneer jy ʼn kamera opneem om foto’s te neem dan is dit heel anders as wanneer iemand ʼn toneel skilder. Die harde realiteit soos dit voor jou is, word vasgevang. Ja, jy kan dit manipuleer, jy kan die kleure ophelder of verdof. Jy kan die realiteit ʼn bietjie mooier laat lyk, maar dit bly die harde realiteit.
Per geleentheid sit Pauline Musengwayire voor my en vertel haar lewensverhaal. Dit was aangrypend en ongelooflik hartseer. Haar man en twee kinders is tydens die volksmoord in 1994 in Rwanda vermoor en sy verkrag. Vandag is sy MIV+ en sukkel om voort te bestaan.
Die foto wat geneem was, wys ʼn goed versorgde vrou, in die fleur van haar lewe, maar met oë wat moeg is. Sy is gewoon moeg van die gestoei om aan die lewe te bly.
Hierdie vrou wat fisies so moeg is kom met ʼn ongelooflike geloofswaarheid na vore. Sy begin vertel wat haar deurdra, en dit gaan oor die soeke na die wil van die Here in haar eie lewe. Dit is nie net lippetaal nie, maar ʼn deurleefde werklikheid.
Vandag dink ek weer terug aan daardie ontmoeting. Vir baie van ons is ons daaglikse omgang met die Here iets vanselfsprekend. Baie keer is dit ook iets wat afgeskeep word te midde van ons baie besige programme.
Die Bybel gee vir ons baie duidelike riglyne wat diens aan die Here beteken en hoe dit moet gebeur. Terselfdertyd is daar definitiewe riglyne oor hoe om die kwaad te vermy. Jesus Christus, ons Verlosser het hierin ʼn navolgenswaardige voorbeeld gestel. Hy was deurentyd die toonbeeld van liefde, vrede en omgee. Tog het Hy ook berispe en verkeerdhede reggestel.
Die realiteit is dat ons in ʼn wêreld leef wat soek na antwoorde. Na rigtingwysers om sinvol en doelgerig te lewe. Kom ons laat toe dat ons lewens as rigtingwysers na God toe die toonbeeld is van wysheid en insig.
Gebed: Here, help my om deur dit wat ek is uit te reik na ander wat nie so bevoorreg is soos ek nie. Amen.