Vers n dag - 31 Maart
DIE KRUIS AS DIE SPILPUNT
Hennie Symington
Kruispunt in die geskiedenis
Paastyd is die kruispunt van ons geskiedenis – die lewe voor en die lewe na Christus se versoeningsdood. Aan die kruis sien ons wat die Bose en die Liefde kan doen. Die liefde oorwin die kwaad die oomblik toe die Bose daarin slaag om Christus dood te maak.
By die dood van die Skepper was dit of die natuur van skok geruk het. Die aarde het gebewe en duisternis het op die aarde toegesak. Toe het alles stil geword terwyl die hemel en aarde in spanning wag oor wat die uiteinde van die kruisdrama sou wees. Tussen Goeie Vrydag en Paassondag hang die mens figuurlik gesproke tussen die hemel en die hel. Dis ʼn dag van meditasie waarin ons op die lyding en sterwe van Christus fokus.
Hy’ t opgestaan, ja, Hy’t waarlik opgestaan
Op Paassondag slaak hemel en aarde ʼn sug van verligting wanneer dit duidelik word dat Christus die reis na die dood terug na die lewe volbring het. En dit vir geen ander as om die lewe in jou are terug te blaas nie. Sy oorwinning oor die dood maak dit vir jou moontlik om op te staan en weer te leef..
Laat jou groet aan almal wat jy teëkom op Paassondag ʼn welluidende en duidelike boodskap wees: “Hy het opgestaan! Ja, hy het waarlik opgestaan! Ek weet want ek was dood en het weer lewendig geword. Hy het my uit die graf van sonde bevry! Halleluja!â€
Gebed vir vandag
Lam van God, gee dat ek ten minste een uur van hiedie Paasnaweek sal waak by my Verlosser. Blaas U asem oor my lewe sodat ek kan opstaan en leef. Amen.
Vers ʼn dag
Hy was gehoorsaam tot in die dood, ja, die dood aan die kruis. Filip.2:8
Al wat ek wens, is om Christus te ken, die krag van sy opstanding te ondervind en deel te hê aan sy lyding deur aan Hom gelyk te word in sy dood. Filip. 3:10