Vers-n-dag Vers-n-dag
Vers-n-dag Vers-n-dag
  • tuisblad
  • dagstukkies
  • verse-a-day
  • intekening
    • english - verse-a-day

Kan ons vrede maak met ons vyande? - 25 Novermber 2026

Benescke Janse van Resnburg
 
Moenie kwaad met kwaad vergeld nie. Wees goedgesind teenoor alle mense. As dit moontlik is, sover dit van julle afhang, leef in vrede met alle mense.  Romeine 12:17-18, 1983-vertaling
 
’n Span navorsers het verlede jaar in ’n swaelgrot op die grens tussen Albanië en Griekeland die wêreld se grootste spinnekopweb ontdek. Na raming beslaan die web sowat 106 m² en huisves dit ongeveer 69 000 huisspinnekoppe en meer as 42 000 dwergwewerspinnekoppe. Dit is meer as 111 000 spinnekoppe op een plek!
 
Wat hierdie ontdekking so besonders maak, is dat die twee vyandige spinnekopspesies in harmonie saamleef. Wetenskaplikes vermoed dat die oorvloed kos in die grot hierdie buitengewone saambestaan moontlik maak.
 
Hierdie ontdekking het my laat dink aan die waarde daarvan om soms met ander oë na ons “vyande” te kyk. Wat as ons die verskille opsy skuif en sover dit van ons afhang probeer om in vrede saam te werk en saam te bestaan. Hoe sal dit ons lewenskwaliteit en potensiaal verander?
 
Luister weer na Paulus se woorde in Romeine 12:17-18: “Moenie kwaad met kwaad vergeld nie. Wees goedgesind teenoor alle mense. As dit moontlik is, sover dit van julle afhang, leef in vrede met alle mense.” Let veral op die woorde: “sover dit van julle afhang”.
 
Kom ons vra God vandag vir ’n ekstra porsie genade vir daardie mense van wie ons van nature nie hou nie ... ons eie “vyandige spinnekoppe”! En kom ons bid dat Hy ons sal help om met ander oë na hulle te kyk. Om nie net hulle foute en tekortkominge raak te sien nie, maar ook hulle waarde, hulle goeie eienskappe en die goud wat in hulle opgesluit lê.
 
Wie weet? Dalk is dit wat God deur ons vrede en samewerking wil bou, baie groter as wat ons ooit gedink het moontlik is!
 
Gebed: Vader God, dankie vir u genade en krag in tye wat ek sukkel om met sekere mense oor die weg te kom. Help my om met nuwe oë te kyk en die goud en potensiaal raak te sien eerder as om heeltyd gefrustreerd te voel. Ek vra dit in die Naam van Jesus Christus. Amen.
 
Next article: Benodig jou verhouding met God water? - 24 November 2026 Next

Copyright © 2024 Vers-n-dag. All Rights Reserved.