Vers-n-dag Vers-n-dag
Vers-n-dag Vers-n-dag
  • tuisblad
  • dagstukkies
  • verse-a-day
  • intekening
    • english - verse-a-day

Benodig jou verhouding met God water? - 24 November 2026

Benescke Janse van Rensburg
 
Julle sal My soek en julle sal My kry, want julle sal My soek met julle hele hart.  Jeremia 29:13, Bybel vir almal
 
Ek lees van ’n Amerikaanse vrou wat ná ses maande haar dooie roosbos na die kwekery teruggeneem het in die hoop om haar geld terug te kry. Die werknemer het verduidelik dat plante slegs binne 30 dae omgeruil kan word. Die vrou het egter voet by stuk gehou: “Dit was lewendig toe ek dit gekoop het! Hoe moes ek weet dit gaan vrek? Julle behoort lewenslange waarborge te hê!”
 
Hierdie voorval het my lekker laat lag. Tog het dit my ook laat dink. Hoeveel keer doen ons nie dieselfde met ons verhoudings nie. Ons gee nie “water” in die vorm van aandag en tyd nie. En dan, wanneer dit verdor en verbrokkel blameer ons die ander persoon.
 
Dieselfde geld vir ons verhouding met God. Ons spandeer nie tyd saam met Hom nie en dan, wanneer dit voel asof ons gebede in die plafon vasslaan of dat Hy ver is, wonder ons hoekom dit so is.
 
In Jeremia 29 skryf die profeet Jeremia 'n baie belangrike boodskap aan die Israeliete wat in ballingskap vasgesluit is. Hulle voel ver van God. Hulle wonder of Hy hulle verlaat het. Maar dan antwoord God self in Jeremia 29:13: “Julle sal My soek en julle sal My kry, want julle sal My soek met julle hele hart.”
 
God wil nie hê ons moet Hom net soek in swaar tye nie. Hy begeer ’n aktiewe, elke dag verhouding met ons. Hy wil hê dat ons Hom beter moet leer ken. En ons kry dit reg deur tyd in sy teenwoordigheid te spandeer.
 
Hoe lyk jou verhouding met God vandag? Hoe lyk jou verhouding met die mense om jou? Is dit dalk nodig om meer “water” te gee?
 
Dalk is God nie ver van ons af nie. Dalk is dit net tyd om weer die verhouding water te gee.
 
Gebed: Vader God, baie dankie dat U ons uitnooi om U beter te leer ken. Help ons om U met ons hele hart te soek en u wil vir ons lewens te verstaan. Ek vra dit in die Naam van Jesus Christus. Amen.
 
Next article: God het die laaste sê - 23 November 2016 Next

Copyright © 2024 Vers-n-dag. All Rights Reserved.