Vers-n-dag Vers-n-dag
Vers-n-dag Vers-n-dag
  • tuisblad
  • dagstukkies
  • verse-a-day
  • intekening
    • english - verse-a-day

God versterk ons - 3 November 2026

Benescke Janse van Rensburg
 
Die Here my God gee vir my krag. Hy maak my voete soos dié van ’n ribbok, op hoë plekke laat Hy my veilig loop. Habakuk 3:19, 1983-vertaling
 
Ribbokke is ongelooflik rats. Het jy al ooit gesien watter indrukwekkende spronge hulle kan maak wanneer roofdiere hulle bedreig? Hulle beweeg teen steil, rotsagtige hellings uit na plekke waar hulle vyande hulle moeilik kan bereik. En die wonderlikste van alles? Hulle verloor nie sommer hulle vastrapplek nie!
 
Dit laat my dink aan ons eie lewens en hoe ons ook soms soos daardie ribbokke probeer wegkom van ons eie “roofdiere”.
 
Soms is dit siekte – jou eie of dié van ’n geliefde. Soms is dit die seer van ’n verhouding wat uitmekaargeval het. Ander kere is dit vrees oor die toekoms of skuldgevoelens oor iets uit jou verlede wat jou net nie wil los nie.
 
Wanneer dit voel asof ons teen ’n steil afgrond afgly en nie meer vastrapplek kan kry nie, herinner Habakuk ons: “Die Here my God gee vir my krag. Hy maak my voete soos dié van ’n ribbok, op hoë plekke laat Hy my veilig loop.”
 
Nie net wanneer alles goed gaan nie. Nie net wanneer ons sterk voel nie. Maar juis wanneer ons op ons swakste is. God gee vir ons krag langs ’n hospitaalbed, in ’n hofsaal, in ’n eksamenlokaal of in daardie oomblikke wanneer ons regtig nie weet watter kant toe nie.
 
God belowe nie dat ons nooit gevaar of moeilike omstandighede sal beleef nie. Maar Hy belowe om ons krag te gee om daardeur te kom. Hy maak ons voete soos dié van ’n ribbok. Hy help ons om vastrapplek te vind, selfs op die moeilikste terrein.
 
Gebed: Vader God, baie dankie dat U my sterk maak wanneer ek swak voel. Help my vandag om my oë op U te hou, selfs wanneer die lewe onseker voel. Dankie dat U my krag en my vaste rots is. Ek vra dit in die Naam van Jesus Christus. Amen.
 
Next article: God kan die onmoontlike doen - 2 November 2026 Next

Copyright © 2024 Vers-n-dag. All Rights Reserved.