God kan die onmoontlike doen - 2 November 2026
Benescke Janse van Rensburg
By mense is dit onmoontlik, maar by God is alle dinge moontlik. Matteus 19:26, 1933/1953-vertaling
Op 15 Oktober vanjaar het Elon Musk en sy span by Tesla die wêreld se verbeelding aangegryp toe hulle die nuwe Tesla Roadster by ’n SpaceX-aanleg in Texas bekendgestel het. Die motor kon letterlik van die grond af opstyg, deur die lug draai en weer veilig land – ons eerste vlieënde kar!
Tot voor Abraham en Sara het dit “verregaande” geklink vir ’n man van 100 en ’n vrou van 90 om ouers te word. Of dat drie mans ’n brandende vuuroond sal oorleef. Of dat iemand ’n nag in ’n leeukuil met honger leeus sal oorleef.
In Matteus 19:26 sê Jesus: “By mense is dit onmoontlik, maar by God is alle dinge moontlik.”
Dalk is dit presies wat jy vandag moet hoor. Jy vertrou dalk dat God jou geliefde sal genees, ’n verhouding sal herstel of ’n uitkoms uit ’n finansiële krisis kan gee waarvoor jy eenvoudig geen oplossing kan sien nie.
Die God wat vir Abraham en Sara ’n kind gegee het, wat Sadrag, Mesag en Abednego deur die vuur gedra het en Daniël teen die leeus beskerm het, is steeds dieselfde God wat ons vandag aanbid. Wat vir jou onmoontlik lyk, is nie vir God onmoontlik nie.
Gebed: Vader God, baie dankie dat U nooit verander nie. Help my om my oë op U te hou en U aan te hou vertrou vir ’n deurbraak. Ek vra dit in die Naam van Jesus Christus. Amen.