Elia, die "profeet van vuur" - 23 Oktober 2026
Imogen Campbell
Teen die tyd van die aandoffer het die profeet Elia vorentoe gekom en gebid: “Here, God van Abraham, Isak en Israel, laat dit tog vandag bekend word dat U God is in Israel, en dat ek u dienaar is wat op u bevel al hierdie dinge doen. Antwoord my, Here, antwoord my tog dat hierdie volk kan besef dat U, Here, God is, en dat dit U is wat hulle harte weer tot U bekeer.” Toe kom daar vuur van die Here af en dit verbrand die offer, die hout, die klippe en die grond. Dit het selfs die water in die sloot opgelek. Toe die hele volk dit sien, het hulle op hulle knieë geval en uitgeroep: “Die Here is God! Die Here is God!” 1 Konings 18:36-39, 1983-vertaling
In 1925 is hele gemeenskappe in die Amerikaanse Midweste deur 'n tornado verwoes. Met feitlik geen waarskuwing wat dit voorafgegaan het nie, het die kragtige wind deur drie state getrek en 'n spoor van verwoesting agtergelaat. Die ongelooflike krag daarvan het gemaak dat dit steeds as een van die verwoestendste tornado's in die Amerikaanse geskiedenis beskou word.
As 'n epiese verhaal is dié van die profeet Elia seker een van die bestes. Hy is veral bekend vir sy dramatiese vertrek wat in 2 Konings 2:11 vir ons opgeteken is. Daardie dag, terwyl hy en Elisa geloop en gesels het, is hulle deur 'n wa van vuur wat deur perde van vuur getrek is van mekaar geskei. Elia is toe deur 'n stormwind in die hemel opgeneem. Wat 'n vertrek na die hemel betref, is dit feitlik onmoontlik om hierdie een te oortref.
Interessant genoeg, die Bybel vertel ons nie veel van Elia se afkoms nie. Wel dat hy 'n Tisbiet was, met ander woorde afkomstig van Tisbe in Gilead, en dat hy 'n bywoner was. Ons ontmoet hom toe hy vir koning Agab kom aankondig dat dit vir 'n hele paar jaar nie sou reën nie.
Die koning, van wie 1 Konings 16:33 sê dat hy meer gedoen het om die Here die God van Israel uit te tart as al die konings van Israel voor hom, was, soos 'n mens jou kan voorstel, buite homself van woede.
Net voordat die droogte gebreek is, het Elia letterlik gebid dat vuur uit die hemel sou neerdaal en die offer – waaroor kruike vol water (wat moeilik bekombaar was) uitgegiet is – waarmee hy die profete van Baäl getart het – sou verteer. God het die offer verteer. Weer eens 'n manifestasie van sy heerlikheid.
Elia het toe die profete van Baäl laat doodmaak. Daarna lees ons dat Isebel vir hom 'n doodsdreigement stuur. Elia vlug vir sy lewe en bid dat hy mag sterf. Bang vir 'n vrou, regtig? Desondanks het God Elia in sy tyd van nood tot hulp gekom. In die laaste verse van die Ou Testament lees ons weer van hom: "Ek gaan vir julle die profeet Elia stuur voordat die dag van die Here kom, die groot, die verskriklike dag. Elia sal vaders en kinders met mekaar versoen sodat Ek nie hoef te kom en die land heeltemal vernietig nie." (Maleagi 4:5-6)
Nie net sluit hy die Ou Testament af nie, maar Jesus bevestig later dat Johannes die Doper – nog 'n profeet met klere van kameelhaar wat sprinkane geëet het – in die krag en gees van Elia sou kom.
Elia was ook daar die nag van Jesus se verheerliking. In Openbaring 11 lees ons van dinge wat in die eindtye sal plaasvind en wat 'n mens ietwat aan die tye van Elia herinner. Alles sal egter met die tyd geopenbaar word.
Sukkel jy met jou geloof? Jy is nie alleen nie. As 'n man van God met Elia se geloof en geestelike krag kan struikel, kan ek en jy ook.
Gebed: Here, ons oë is op U gerig, die God van heerlikheid wat altyd teenwoordig is. Help ons om altyd u Woord in ons harte te dra. Amen