Vers-n-dag Vers-n-dag
Vers-n-dag Vers-n-dag
  • tuisblad
  • dagstukkies
  • verse-a-day
  • intekening
    • english - verse-a-day

Gideon, swakkeling tot magtige kryger - 22 Oktober 2026

Imogen Campbell
 
Daarop sê die Engel van God vir hom: “Neem die vleis en die ongesuurde brood, sit dit hier op die rots neer en gooi die sous daaroor.” Hy het toe so gemaak. Toe steek die Engel van die Here die wandelstok in sy hand uit en raak met die punt aan die vleis en die ongesuurde brood. Vuur het uit die rots opgeslaan en die vleis en ongesuurde brood verteer. Die Engel van die Here het voor sy oë verdwyn, en Gideon het besef dat dit die Engel van die Here was. Toe sê Gideon: “Ag, Here, my Heer! Want nou het ek die Engel van die Here van aangesig tot aangesig gesien!”  Maar die Here sê vir hom: “Vrede vir jou! Moenie bang wees nie; jy sal nie sterf nie!” Rigters 6:20-23, 2020-vertaling
 
Gideon het geen twyfel oor sy swakhede, of selfs dié van sy familie nie. Tog vertel die Bybel ons van die ontmoeting met die engel van die Here, wat hom as 'n dapper kryger beskou het. Ek bly verbaas oor hoe vol twyfel Gideon was, maar ook oor hoe geduldig die "engel" was.
 
Ek wil graag julle aandag vestig op die vuur wat in ons teksgedeelte beskryf word en hoe dit Gideon oortuig het dat hy met God te make het. Dit wat ons as die heerlikheid van God kan beskryf, manifesteer hier as vuur uit 'n rots wat die vleis en brood verteer. Dit weerspieël wat met die Israeliete in die woestyn gebeur het. "Daarna het Moses en Aäron die Tent van Ontmoeting binnegegaan. Toe hulle uitkom, het hulle die volk geseën. Die heerlikheid van die Here het aan die hele volk verskyn: 'n Vuur het van voor die Here uitgegaan en die brandoffer en die vet op die altaar verteer. Toe die hele volk dit sien, het hulle gejuig en neergeval met hulle gesigte teen die grond." (Levitikus 9:23-24)
 
In die Bybel lees ons dat God vir Moses gesê het: "Jy kan nie my gesig sien nie, want 'n mens kan My nie sien en bly leef nie.” (Eksodus 33:20) Tog het Hy Gideon verseker dat hy nie sou sterf nie.
 
Gideon het uiteindelik die Midianiete met 300 man verslaan, nadat hy die manskappe eers van 32 000 tot 10 000 moes verminder. Gideon se oorspronklike vrees is te verstane as die vrees van die res van die manne in ag geneem word. Vir 22 000 manne om terug te gaan huis toe omdat hulle bang was, is nogal iets besonders. God het toe die leër tot 300 verminder sodat Israel nie kon spog dat hulle uit eie krag gered is nie.
 
Is God tans besig om jou hulpbronne te verminder? Hy is dalk besig om jou vir 'n groot oorwinning voor te berei. Nou dit is 'n wonderlike gedagte, of hoe?
 
Wel, die modus operandi vir die geveg was die volgende: die bevelvoerder het aan sy manne gesê dat ramshorings geblaas sal word, hy het leë kruike met fakkels (vuur) binne-in in hulle hande geplaas. Op sy teken is die ramshorings geblaas, die kruike gebreek, die fakkels vasgehou en hulle het 'n gevegskreet geskreeu.
 
Die vyand was heel deurmekaar en het teen mekaar begin veg. Die gevolg: die bedreiging deur die Midianiete het nie weer in Gideon se leeftyd kop uitgesteek nie.
 
As jy voel of God jou nie in jou huidige omstandighede kan gebruik nie omdat jy te swak is of 'n gebrek aan hulpmiddels het, of volgens jou, 'n karakterfout het, kan Gideon se lewe miskien jou geloof in wat by God moontlik is, versterk. Wat hou jou terug? Soos God vir Gideon gesê het, gaan in die krag wat jy het.
 
Gebed: Hemelse Vader, dankie dat U selfs die swakste onder ons gebruik. Ons loof U vir die geduld wat U met ons het self wanneer ons weerloos en bang is. Amen
Next article: Getoets in die smeltkroes van ellende - 21 Oktober 2026 Next

Copyright © 2024 Vers-n-dag. All Rights Reserved.