Vers-n-dag Vers-n-dag
Vers-n-dag Vers-n-dag
  • tuisblad
  • dagstukkies
  • verse-a-day
  • intekening
    • english - verse-a-day

Priesterlike oom en tante - 9 Oktober 2026

Imogen Campbell
 
maar die engel sê vir hom: “Moenie bang wees nie, Sagaria, want jou gebed is verhoor. Jou vrou, Elisabet, sal aan jou 'n seun skenk, en jy moet hom Johannes noem. Hy sal 'n bron van blydskap en vreugde vir jou wees, en baie sal bly wees oor sy geboorte ..."   Lukas 1:13-14, 1983-vertaling
 
Twee jaar gelede het Sylvia Nodela, 'n verwagtende moeder van Philippi, se opgewondenheid oor haar swangerskap vinnig verdwyn toe sy moes hoor dat haar baba besig was om buite die baarmoeder te ontwikkel, 'n toestand wat tot 'n magdom komplikasies kon lei.
 
Gevolglik moes sy 'n hoë risiko operasie ondergaan wat suksesvol was, en baba Joshua het 'n buitengewone intrede in hierdie wêreld gemaak. Verhale soos dié help ons om nog in wonderwerke te glo.
 
Ongeveer 2 000 jaar gelede, was daar meer as een storie van 'n wondergeboorte op die Judese platteland. Die engel Gabriël het sy hande vol gehad met aankondigings van geboortes wat die wêreld sou verander. Eers die geboorte van die baba, Johannes, wat bestem was as 'n voorloper vir die Messias.
 
Sy ouers, Sagaria en Elisabet, was beide afstammelinge van Aäron en is beskou as regverdig in die oë van God. My afleiding hier is dat die leser geensins onvrugbaarheid aan enige sonde kan toeskryf nie. 'n Mens dink aan Sara, Ragel en Hanna se stryd om 'n kind te hê; hulle moes almal wag vir God se tyd vir besondere kinders om gebore te word.
 
Sagaria se ontmoeting met die engel was heel moontlik vir hom 'n skok, veral as ons in ag neem dat daar ongeveer 400 jaar verloop het wat Israel sonder 'n profetiese stem was.
 
Dit verduidelik ook hoekom Sagaria bang geword het toe hy die engel se woorde hoor daar waar hy in die tempel diens gedoen het. Vol twyfel het hy vir die engel gevra: “Waaraan sal ek dit weet? Ek is 'n ou man, en my vrou is al op ver gevorderde leeftyd.” (Lukas 1:18)
 
Dit is duidelik dat die engel besef het dat Sagaria hom nie glo nie, en die ou priester is met stomheid geslaan vir die hele verloop van Elisabet se swangerskap. Ek wonder altyd hoekom die engel so beslissend opgetree het. Dit wil voorkom of God van Sagaria verwag het om sy boodskapper te glo.
 
Hoe reageer jy wanneer God deur sy Woord met jou praat, selfs wanneer jy twyfel? Miskien voel jy asof jy onregverdig in die lewe behandel word, asof God jou vergeet het? Hou jy aan om, soos hierdie egpaar, God deur dik en dun te dien?
 
Gelukkig eindig alles goed. Johannes die Doper, soos hy bekend was, was 'n gesonde seuntjie wat na alle waarskynlikheid, soos die engel gesê het dit sou gebeur, groot vreugde vir sy familie gebring het. Nadat Johannes besny is en sy naam ontvang het, hoor ons egter niks meer van hierdie egpaar nie.
 
Gebed: Hemelse Vader, U werk dikwels op maniere wat ons nie begryp nie. Help ons om standvastig in ons geloof te bly, selfs wanneer niks vir ons sin maak nie. Amen.
 
Next article: Die kerngesin in Nasaret - 8 Oktober 2026 Next

Copyright © 2024 Vers-n-dag. All Rights Reserved.