Die kerngesin in Nasaret - 8 Oktober 2026
Imogen Campbell
Gelukkig is die mens wat in versoeking standvastig bly. As hy die toets deurstaan het, sal hy as oorwinningsprys die lewe ontvang wat die Here belowe het aan dié wat Hom liefhet. Jakobus 1:12, 1983-vertaling
Jakobus, wat tradisioneel beskou word as die skrywer van die boek wat sy naam dra, was Jesus se halfbroer. Gedurende sy aardse bestaan, was daar geen gesinseenheid onder Jesus en sy broers en susters nie. Inteendeel, hulle het geglo Jesus het van sy kop afgeraak. (Markus 3:21)
Josef se seuns en dogters sou werklik 'n ryk inligtingsbron gewees het oor Jesus se vroeë jare. Ek sou graag wou hoor watter raad Hy aan sy jonger broers en susters gegee het. Ek wonder of hulle geluister het.
Helaas, al wat ons weet is dat hulle nie juis geglo het dat Hy die Messias is nie. Sal jy jou broer of suster glo as hulle kom vertel dat hulle 'n koninkryk het wat nie van hierdie wêreld is nie?
Maar iets het gebeur. 'n Gebeurtenis het Jerusalem geskud – Jesus van Nasaret is wreed gekruisig – en daardie dag was 'n katalisator vir verandering in Jakobus se hart.
In "No God But One, Allah or Jesus", verduidelik Nabeel Qureshi: "Die kruisiging het dikwels, soos in die geval van Jesus, gevolg na lyfstraf wat op sigself 'n verskriklike marteling was. Die sweep was ontwerp om die vel te skeur en die spiere in 'n pappery te verander en dit het die slagoffer se bloed in strome laat vloei." [vrye vertaling] Die antieke historikus, Flavius Josephus, beskryf hoe die slagoffers dikwels tot op die been gegesel is en dat hulle ingewande dan hierdeur ontbloot is.
In "Unlocking the Bible", sê David Pawson: “Daar word gesê dat toe Jesus aan die kruis gesterf het, was sy broer Jakobus so diep ontsteld en vol berou oor wat hy oor Hom gesê en hoe hy Hom bespot het, dat hy gesê het hy gaan nooit weer eet nie. Hy sou tot met sy dood gevas het, as dit nie was dat drie dae later Jesus aan sy volgelinge en aan Jakobus persoonlik verskyn het nie. Van daardie oomblik af het Jakobus na homself as 'n slaaf van Jesus verwys." [vry vertaal]
"Die boodskap van die kruis van Christus is wel onsin vir dié wat verlore gaan, maar vir ons wat gered word, is dit die krag van God." (1 Korintiërs 1:18)
My eie suster sê dikwels: "Baie kan in 'n dag gebeur." Dink ek aan daardie dag by Golgota, kan ek nie anders as om saam te stem nie. Sukkel jy om te glo dat lede van jou gesin tot geloof kan kom? Dan is daar vir jou goeie nuus.
As gevolg van daardie dag is daar hoop vir ons almal, ook vir ons gesinslede, dat enige gebrokenheid en onmin herstel kan word. Goeie nuus, vir altyd.
Gebed: Jesus, dankie dat U aan die kruis vir ons gesterf het. Gee dat ons ongeredde gesinslede U en die krag van die kruis ook sal leer ken en sodoende gered word. Amen.