God is betrokke - 11 September 2026
Ben Fourie
en toe daar van die Midianitiese handelaars verbykom, het die broers vir Josef uit die put uit opgetrek en vir twintig stukke silwer aan die Ismaeliete verkoop en dié het hom Egipte toe gevat. Genesis 37:28, 1983-vertaling
Jesus het haar geantwoord: "As jy geweet het wat God gee, en wie dit is wat vir jou sê: 'Gee My 'n bietjie water om te drink,' sou jy Hom gevra het, en Hy sou vir jou lewende water gegee het." Johannes 4:10, 1983-vertaling
Daar is talle verhale in die Bybel van God se betrokkenheid by mense en alles wat met hulle gebeur. Die twee wat ek hier gekies het, is vir my van die interessantste in die Bybel.
In die verhaal van Josef gaan dit nie net oor hom as individu nie, maar oor God se vooruit betrokkenheid by die volk Israel wat op daardie tydstip nog nie as volk bestaan het nie. God beskik dit so dat die Midianiete vir Josef by sy broers as slaaf koop en hom daarvandaan Egipte toe vat, want God het groot planne met hierdie familie wat die begin van sy volk Israel sou wees.
Josef was bestem om die regterhand van die farao te word en koring op te gaar wat later nodig sou wees toe die groot hongersnood oor die wêreld gekom het. Die hongersnood dwing vir Jakob se seuns om in Egipte koring te gaan koop en daarna verhuis hulle almal na Egipte. God sê op die pad vir Jakob: “Ek is God, die God van jou vader. Moenie bang wees om na Egipte toe te gaan nie, want Ek sal jou daar 'n groot nasie maak.” (Genesis 46:3).
Waar ons in die Ou Testament sien dat God betrokke is by mense van sy verbondsvolk, kry ons hier in die Nuwe Testament 'n blik op God se betrokkenheid by 'n individu. As ons die geskiedenis van die Jode en Samaritane nagaan, was daar min liefde tussen die twee groepe. Tog raak God hier deur sy Seun Jesus, wat 'n Jood is, ten nouste betrokke by die Samaritaanse vrou by die put. Jesus raak betrokke by haar omdat Hy ook vir haar, ongeag wie sy is, van sy lewende water wil gee.
Ons hoef nooit te twyfel dat God betrokke is by wat met ons gebeur nie, of dit groot of klein dingetjies is, Hy is altyd daar.
Gebed: Ons loof en prys U vir u betrokkenheid in ons lewens elke oomblik van elke dag. Help ons om ook by ons medemens betrokke te raak. Amen