Vers-n-dag Vers-n-dag
Vers-n-dag Vers-n-dag
  • tuisblad
  • dagstukkies
  • verse-a-day
  • intekening
    • english - verse-a-day

God is regverdig - 10 September 2026

Ben Fourie
 
Hy is die Rots, sy werk is volmaak, alles wat Hy doen, is regverdig. Hy is die getroue God, sonder onreg, Hy is regverdig en betroubaar. Deuteronomium 32:4, 1983-vertaling
 
Maar as ons ons sondes bely – Hy is getrou en regverdig, Hy vergewe ons ons sondes en reinig ons van alle ongeregtigheid. 1 Johannes 1:9, 1983-vertaling
 
Ek het in 'n huis grootgeword waar regverdigheid op alle vlakke as baie belangrik beskou is. My ouers het geen onregverdigheid toegelaat nie en daarvoor is ek hulle vandag nog baie dankbaar. In die Bybel lees ons telkens dat God dit van ons verwag om regverdig te wees, soos Spreuke 21:3 vir ons sê: “Die Here verkies dat 'n mens doen wat regverdig en reg is eerder as dat jy offers bring.” Groot woorde, want in die tyd wat Spreuke geskryf is, was offers 'n onontbeerlike deel van mense se godsdiens.
 
Tog kan ons op menslike vlak nooit heeltemal regverdig wees nie, daarvoor sorg die menslike natuur. Sonder om dit noodwendig so te beplan, tree ons dikwels baie onregverdig op teenoor ons lewensmaat, kind, werknemer of selfs die ander motoris by die stopteken.
 
God daarenteen is volkome regverdig. In Deuteronomium 32 is 'n pragtige lied wat Moses kort voor sy dood aan God opgedra het. In ons aangehaalde vers word van God gesê dat Hy 'n Rots is, dat sy werk volmaak is en dit word afgerond deur die woorde: “alles wat Hy doen is regverdig”. Rots, volmaak, regverdig, getrou en sonder onreg. Dit is hoe God is, daarom is Hy absoluut getrou aan sy beloftes aan ons.
 
In die bekende Johannes 3:16 beloof God aan ons: “... sodat dié wat in Hom glo, nie verlore sal gaan nie maar die ewige lewe sal hê.” Op grond van dié belofte kan Johannes in ons teks uit sy eerste brief ook sê dat as ons ons sondes bely, God nooit op sy belofte om ons te vergewe sal teruggaan nie. Getrou doen Hy wat Hy belowe het en omdat Hy volkome regverdig is, geld dit onpartydig vir elkeen wat glo, ongeag wat ons status, rykdom of plek in die samelewing is.
 
Gebed: Baie dankie liewe Vader dat U ten alle tye absoluut regverdig is. Amen
Next article: God is heilig - 9 September 2026 Next

Copyright © 2024 Vers-n-dag. All Rights Reserved.