Vers n dag - 24 Maart
Hoe weeg jou emosies op?
Hennie Symington
Hoe werk jou emosionele sagteware?
Emosies is ingebed in die mens soos wat die sagteware in ‘n rekenaar ingeprogrammeer is. Daar is egter iets soos ‘n emosionele kwosiënt wat bepaal hoe volwasse jy met jou emosies kan omgaan.
Dit is ‘n begrip vir die interaksie tussen jou denke en jou emosies wat bepaal hoe suksesvol jy as mens funksioneer, nie net op ‘n persoonlike en inter-persoonlike vlak nie maar ook in jou beroep.
Volgens Daniel Goleman, wat die konsep in sy boek Emotional Intelligence: Why It Can Matter More than IQ gepopulariseer het, is die volgende vaardighede van belang:
- Emosionele bewustheid - d.i die vermoë om jou gevoelens waar te neem.
- Emosionele geletterdheid – d.i. die vemoë om jou gevoelens te onderskei.
- Emosionele beheer – d.i.. die vermoë om gevoelens toepaslik uit te druk.
- Emosionele integrasie – d.i. die vermoë om jou gevoelens te gebruik om jou optrede te rig en gemotiveerd en doelgerig te leef.
- Empatie – d.i. vermoë om ‘n ander se gevoelens te identifiseer.
Na wie aard jy?
As jy na hierdie lysie van vaardighede kyk, hoe sou jy jou gedrag beoordeel? Is jy ’n Petrus wat meestal soos ‘n los kanon optree en na die eerste die beste teiken skiet? Of is jy dalk meer soos Jesus.
Jesus is ‘n uitstekende voorbeeld van iemand met ‘n volmaakte emosionele kwosiënt. Hy word kwaad vir die regte redes, is hartseer wanneer dit toepaslik is en het die volmaakte vermoë om in ‘n ander se plek te staan.
Â
Voor jy weer op loop gaan met jou emosies, staan ‘n oomblik stil en vra: sou Jesus so optree?
Gebed vir vandag
Here ek erken my emosies is meestal gevaarlike wapens wat ek sonder om na te dink gebruik soos dit my pas. Maak my volwasse in my emosies deur U voorbeeld na te volg.
Vers ‘n dag
Toe die manne aanstaltes maak om van Hom weg te gaan, se Petrus vir Jesus: “Here, dit is goed dat ons hier is. Laat ons drie hutte bou: een vir U, een vir Moses en een vir Elia. Hy het nie geweet wat hy sê nie. Lukas 9:33
Â
Toe Jesus sien dat Maria huil en dat die Jode wat saam met haar gekom het, ook huil, het sy gemoed vol geskiet en was Hy aangedaan. Joh.11:33