Vers-n-dag Vers-n-dag
Vers-n-dag Vers-n-dag
  • tuisblad
  • dagstukkies
  • verse-a-day
  • intekening
    • english - verse-a-day

Eindtyd? - 30 Junie 2026

Ben Fourie
 
Julle sal die rumoer van oorloë en gerugte van oorloë hoor. Pas op, moenie verskrik word nie. Dit moet kom, maar dit is nog nie die einde nie. Matteus 24:6, 1983-vertaling
 
Die wêreld staan op sy kop. Met ons huidige tegnologie soos televisie en YouTube en ander digitale dienste word die woorde van ons teksvers maar al te waar. Ons kan nou letterlik die rumoer van oorloë in ons sitkamers en op ons rekenaarskerms hoor en sien. Dit is nie meer net gerugte nie, maar werklikhede. Sedert die aanval op Iran vroeër vanjaar, het baie dinge verander.
 
Brandstof kos 'n fortuin, lewensmiddele word vinnig duurder en ons spaargeld word ook aangetas. 'n Mens kan skoon verskrik raak. Gelukkig het Jesus ons hierteen gewaarsku. Dit is ook nie die eerste keer dat dit gebeur nie. Ek onthou nog hoe my ouers vertel het van die Tweede Wêreldoorlog toe brandstof so skaars was dat jy elke maand net 'n paar koepons gekry het waarmee jy brandstof kon koop.
 
As ons na die omgekeerde wêreld kyk, is dit normaal om bekommerd te wees oor wat die toekoms vir ons inhou, maar Jesus sê: “Pas op, moenie verskrik word nie.” Om bekommerd te wees is een ding, maar om totaal verskrik te wees, is iets heel anders. Deur al hierdie dinge heen is God nog daar. Ons het die afgelope maand gesien dat by Hom is daar nog hoop vir ons, Hy hoor nog as ons na Hom roep, Hy is by ons, Hy laat ons nie alleen nie.
 
Hoe onverstaanbaar dit ook mag klink, is daar 'n positiewe aspek aan dit wat in die wêreld gebeur. Al die goed wat gebeur is naamlik rigtingwysers na die einde wat sal kom. Dit is die tyd wanneer God alles nuut sal maak en ons trane sal afdroog en die dood nie meer sal bestaan nie en leed en pyn en smart ook sal verdwyn en die ou dinge sal verbygaan. (Lees Openbaring 21:4-5). Wanneer dit sal wees weet ons nie, dalk volgende week, dalk eers oor 'n paar honderd of duisend jaar, maar dit sal gewis gebeur.
 
Gebed: Hemelse Vader, ons dank U dat as ons soos klein kindertjies bang raak vir die donker wêreld waarin ons leef, U ons hand styf vashou. Amen
Previous article: God voorsien - 1 Julie 2026 Prev Next article: Resep vir die lewe - 29 Junie 2026 Next

Copyright © 2024 Vers-n-dag. All Rights Reserved.