Vers-n-dag Vers-n-dag
Vers-n-dag Vers-n-dag
  • tuisblad
  • dagstukkies
  • verse-a-day
  • intekening
    • english - verse-a-day

Resep vir die lewe - 29 Junie 2026

Ben Fourie
 
" 'Jy moet die Here jou God liefhê met jou hele hart en met jou hele siel' en met jou hele verstand ... 'Jy moet jou naaste liefhê soos jouself.' Matteus 22:37,39b, 1983-vertaling
 
Daar is min dinge in die lewe wat my so kan irriteer soos ontydige advertensies, of dit radio, televisie of die is wat elke nou en dan ongevraagd oor jou rekenaarskerm flits. Onlangs is ek besig om die digitale koerant op my rekenaar te lees toe daar 'n advertensie van 'n klomp resepte op die skerm verskyn. Net toe ek wou vies raak, sien ek 'n resep vir seekos wat baie lekker lyk. Nie dat ek 'n goeie kok is nie, maar my vrou is gelukkig een.
 
Terwyl ek dit so sit en deurlees, tref dit my dat die lewe, ja ook ons geloofslewe, soos 'n goeie resep is. Daar is verskillende bestanddele, 'n metode hoe die gereg voorberei moet word en ook hoe jy dit gaarmaak. Verder besef ek dat elke resep uniek is en 'n eie manier het van hoe jy dit hanteer. Die gaarmaak van 'n skaapboud is iets heel anders as om 'n koek te bak. Verder hang die sukses van die dis nie net van die kwaliteit van die bestanddele af nie, maar van die toewyding en vermoë van die kok wat dit berei.
 
Oor die kwaliteit en hoeveelheid bestanddele wat God vir ons gee om ons lewenskos te maak, hoef ons nie te twyfel nie, dit is daar in oorvloed. Ons Resepteboek is lekker dik en daar is baie mense wat kan help wanneer ons sekere instruksies dalk nie mooi verstaan nie.
 
Dit is nie 'n ingewikkelde resep nie en die Here Jesus se aanwysings is helder en verstaanbaar soos dit pragtig in ons teksvers na vore kom. As ons dit presies navolg, sal ons nie met 'n oneetbare dis opgeskeep sit nie.
 
Natuurlik kan selfs die beste kok 'n fout maak. Ons ervaar dit elke dag in ons lewe en geloofslewe, maar dan moet ons maar net weer terugkeer na die oorspronklike Resepteboek en fyn gaan lees wat God daar vir ons sê. Deur die jare het ek wel ook 'n baie belangrike les geleer. Om in jou geloofslewe kitskos te wil maak, werk glad nie.
 
Gebed: Baie dankie dat U ons voorsien van die heel beste bestanddele en aanwysings om 'n smaaklike geloofslewe te kan hê. Amen
Previous article: Eindtyd? - 30 Junie 2026 Prev Next article: Laat die Gees beheer oorneem - 26 Junie 2026 Next

Copyright © 2024 Vers-n-dag. All Rights Reserved.