Alles behoort aan God - 12 Junie 2026
Ben Fourie
Die aarde en alles wat daarop is, die wêreld en dié wat daar woon, alles behoort aan die Here. Psalm 24:1, 1983-vertaling
Nadat ek gister se dagstukkie geskryf het, het ek nogal baie gedink oor watter rol godsdiens nog in óns land speel. As 'n mens net die statistiek vir byvoorbeeld dobbel nagaan, staan jy verstom oor hoeveel mense in hierdie strik vasgevang is. Dwelmmisbruik skiet die hoogte in, korrupsie vind oral plaas en swendelaars loop talle mense in.
Vloektaal is nou algemeen en sommige mense spog selfs daarmee. Nou het ons nog nie eers moord, aanranding, die mishandeling van vroue en kinders en al dié nare dinge genoem nie. 'n Mens voel omtrent of jy soos die mense in die Bybel in sak en as kan gaan sit en rou oor die dood van 'n mooi land.
Maar dit is, dank die Here, darem nie die enigste prentjie van ons land nie. Daar is nog miljoene mense wat 'n eties en moreel korrekte lewe leef. By beide die Laer- en Hoërskool waar my twee kleinkinders skoolgaan, is die Christelike geloof nog uiters belangrik. Sondae is die erediens in ons tuisgemeente dikwels so vol dat as jy bietjie laat is daar na oop sitplekke gesoek moet word.
So 'n maand of twee gelede woon ek en my vrou 'n byeenkoms by waar dr Danie Smit, wat al baie in Antarktika was, 'n praatjie daaroor kom lewer het. Die verrigtinge word deur 'n dominee met 'n stukkie uit die Skrif en 'n gebed geopen. Sy teks is bogenoemde uit Psalm 24, spesiaal gekies om aan te sluit by dr Danie se praatjie.
Net daar het ek besef dat godsdiens en geloof geen perke ken nie en niemand sal dit ooit kan beperk of uitroei nie, ook nie in ons land nie. Net soos die wêreld vanaf die Suid- tot die Noordpool, elke berg, see, bos en boom aan God behoort, net so behoort ons elkeen onlosmaaklik aan Hom – “die wêreld en dié wat daar woon, alles behoort aan die Here”.
Gebed: Hoe wonderlik is dit nie Here, dat letterlik alles aan U behoort nie. U het my een van u oppassers van hierdie wêreld gemaak. Help my om elke dag getrou te wees. Amen