Vers-n-dag Vers-n-dag
Vers-n-dag Vers-n-dag
  • tuisblad
  • dagstukkies
  • verse-a-day
  • intekening
    • english - verse-a-day

Die kerk is rotsvas - 11 Junie 2026

Ben Fourie
 
En ek sê vir jou: Jy is Petrus, en op hierdie rots sal Ek my kerk bou, en die magte van die doderyk sal dit nie oorweldig nie. Matteus 16:18, 1983-vertaling
 
Baie mense sê die kerk is uitgedien. Baie glo daar sal teen die einde van die eeu glad nie meer 'n kerk of selfs geloof bestaan nie. Kinders wat nou gebore word sal dalk die laaste geslag wees om die kerk te ervaar soos wat ons dit ken. Ander dink geloof in God sal moontlik nog bestaan, maar in 'n totaal ander vorm as wat ons vandag beleef.
 
Nog ander glo dat kinders aan geen godsdiens blootgestel moet word voordat hulle nie 'n ouderdom bereik het waar hulle self kan besluit of hulle hoegenaamd daarin geïnteresseerd wil wees nie.
 
Ons leef in 'n baie deurmekaar wêreld. 'n Maand of wat gelede is daar 'n artikel deur Mart-Marié Uys op Netwerk 24. Ek haal so 'n stukkie aan: “Bieg jy ook diep in die nag teenoor 'n algoritme? Baie mense stort deesdae hulle harte uit teenoor kunsmatige intelligensie.” Intussen het ek nog verskeie artikels in die verband gelees en 'n mens staan verstom oor hoeveel mense dit so doen. KI is die nuwe sielkundige.
 
Covid-19, oorloë oral in die wêreld en die gevoel dat die wêreld in materialisme verdrink, maak dat mense na iets soek om hulle te help om alles te kan hanteer. Sommiges praat dan met kletsbotte, ander gebruik dwelms terwyl nog ander rykdom najaag, maar dit lyk of daar tog ook 'n tendens is waar mense terugkeer na godsdiens.
 
Kom ons neem Swede as voorbeeld. Na die verskrikking van die Tweede Wêreldoorlog het die meeste Swede hul rug op godsdiens gedraai en kerkbywoning het verminder to 'n skrale 5%. Nou het kerkbywoning binne vier jaar verdubbel. Groepe jongmense kom weer bymekaar om oor geloof te praat.
 
Dit lyk of dinge in die regte rigting verander. Jesus se woorde dat selfs die magte van die doderyk nie die kerk sal vernietig nie, is vandag nog net so waar as toe. Die kerk mag dalk in die jaar 2126 anders lyk as vandag. Ek en jy het 'n groot verantwoordelikheid. Ons moet leef vir, en praat oor God, sodat die kerk oor 'n honderd jaar nog net so rotsvas kan wees as vandag.
 
Gebed: Baie dankie dat U ons verseker dat ons geloof in U nie maar sommer net 'n hersenskim is nie, maar gegrond is op u belofte dat selfs die doderyk dit nie sal kan vernietig nie. Amen
 
Next article: Hoop op God - 10 Junie 2026 Next

Copyright © 2024 Vers-n-dag. All Rights Reserved.