Vreugde in elke dag - 9 Junie 2026
Ben Fourie
Op die eerste dag moet julle sitrusvrugte neem saam met palmblare en takke van digte bome en rivierwilgers, en dan moet julle sewe dae lank met vreugde feesvier by die heiligdom van die Here julle God. Levitikus 23:40, 1983-vertaling
Onlangs ontvang ek een van die talle boodskappies en sêgoed wat op sosiale media krioel. Gewoonlik kyk ek net vir 'n oomblik daarna en wis dit dan uit. Hierdie een het my egter laat nadink. Ongelukkig weet ek nie wat die oorspronklike bron is nie so ek kan nie krediet gee nie. Dit sê: "Die lewe is 'n lied – sing dit. Die lewe is 'n spel - speel dit. Die lewe is 'n uitdaging – pak dit aan. Die lewe is 'n droom – jaag dit na."
'n Mens kan so verstok raak in jou siening van die lewe dat jy later glad nie meer werklik lewe nie. Jy hou later op met sing en speel en nuwe dinge probeer, jy droom later nie eers meer nie. 'n Mens kan ook so verstok raak in jou siening en beoefening van godsdiens, dat jy nie meer die vreugde daarvan ervaar nie. Godsdiens raak dan 'n gewoonte of ritueel in plaas daarvan dat dit 'n lied moet wees.
Die boek Levitikus handel grootliks oor godsdienstige wette en rituele en offerandes, maar in hoofstuk 23 gaan dit oor al die feeste wat tot eer van God gehou moet word. Die feeste moet voortdurend gewyde feeste wees, daar moes geen losbandigheid wees nie, maar volgens ons teks moet dit ook nie met lang gesigte gedoen word nie. Wanneer 'n fees tot eer van God is, moet daar altyd vreugde en blydskap teenwoordig wees.
Op ons geloofspad moet daar ook gesing en gespeel en gewerk en gedroom word. Psalm 37:4 sê nie verniet: “Vind jou vreugde in die Here, en Hy sal jou gee wat jou hart begeer.” Maak vandag nog weer 'n dag waarin jy jou geloof uitbundig geniet.
Gebed: Ons wil U loof en tot u eer sing omdat 'n lewe in u teenwoordigheid altyd 'n lewe vol vreugde is. Amen