Vers-n-dag Vers-n-dag
Vers-n-dag Vers-n-dag
  • tuisblad
  • dagstukkies
  • verse-a-day
  • intekening
    • english - verse-a-day

Nooit weer alleen nie - 8 Junie 2026

Ben Fourie
 
En onthou: Ek is by julle al die dae tot die voleinding van die wêreld”. Matteus 28:20a, 1983-vertaling
 
Onlangs kyk ek televisie en kon dit amper nie glo toe daar 'n musiekgroep optree wat ons in my jongdae graag na geluister het nie. Baie van ons jong lesers het waarskynlik nog nooit van “The Staccatos” gehoor nie, maar ons was mal oor hulle. Hulle bekendste lied is “Cry to me”.
 
In die lied kom die volgende woorde voor: “Loneliness is such a waste of time”. Eensaamheid is dalk die heel ergste ding wat 'n mens kan tref. As bestuurder van 'n tehuis vir bejaardes het my vrou dit eerstehands ervaar hoe bejaardes, ten spyte van vriende rondom hulle, totaal vereensaam het as familie, veral hulle kinders, hulle nooit kom besoek het nie.
 
Eensaamheid kan baie vorme aanneem. 'n Mens kan tussen goeie vriende en selfs familie wees en tog 'n grenslose eensaamheid ervaar, 'n eensaamheid van die hart en die siel. Die redes daarvoor kan legio wees. Soms weet jy nie eers wat die werklike rede is nie, jy ervaar dit net. Jy kan ook eensaam voel omdat jy stokalleen met een of ander krisis worstel en daar niemand is vir wie jy dit eers mag vertel nie. Mense met terminale siekte ervaar soms ook erge eensaamheid omdat niemand eintlik daardie laaste pad saam met jou kan stap nie, hulle goeie bedoelings ten spyt.
 
Soms voel 'n mens selfs van God verlate. Jesus het self Godverlatenheid ervaar. Hy het sekerlik geweet dat sy volgelinge na sy hemelvaart ook baie alleen sou voel. Daarom gee Hy kort voor die hemelvaart aan hulle die belofte, dat al sou hy hulle fisies verlaat, hy in die Gees altyd by hulle sou bly. God se Gees is nou nog by ons elke dag, elke tree. Ek hoef nooit weer op geestelike terrein eensaam te wees nie en as ek na Hom soek wanneer ek soms mensalleen voel, sal Hy ook daar by my wees.
 
Gebed: Hoe kan ons ooit genoeg dankie sê dat U altyd by ons is. Gebruik ons om ook eensame mense raak te sien en 'n verskil in hulle lewens te maak. Amen
 
Previous article: Vreugde in elke dag - 9 Junie 2026 Prev Next article: Ontmoeting met Jesus - 5 Junie 2026 Next

Copyright © 2024 Vers-n-dag. All Rights Reserved.