Op 'n wonderbaarlike wyse geskep - 4 Mei 2026
Imogen Campbell
U het my gevorm, my aanmekaargeweef in die skoot van my moeder. Ek wil U loof, want U het my op 'n wonderbaarlike wyse geskep. Wat U gedoen het, vervul my met verwondering. Psalm 139:13-14, 1983-vertaling
Vinnig op pad om dinge gedoen te kry en met my aandag afgetrek, het ek skeef getrap op 'n ongelyke sypaadjie. Die beton het nie saam meegegee nie, en ek het onmiddellik besef iets is verkeerd. Pyn het deur my enkel geskiet en ek het vermoed dat ek dit waarskynlik verstuit het. Ek sal gou weer so reg soos reën wees, het ek gedink, want ek het nie die gevreesde klapgeluid gehoor nie. En ek het mos ook gebid dat niks verkeerd moet wees nie.
Gedurende die volgende week het die kneusing aan weerskante van my voet en op teen my been net erger geword. Ek moes wakker skrik en is vir x-strale gestuur wat 'n fraktuur bevestig het. Ewe skielik het ek 'n ortopediese chirurg se opninie benodig en die moontlikheid van 'n pen is genoem. Om die minste te sê, niks daarvan het my aangestaan nie.
Weke het gevolg wat ek 'n "moon boot" moes dra – geen gewig op die voet was die uitspraak. Ek is dankbaar om te sê dat God in elke detail was. Hy het uitstekende professionele mense voorsien om my te versorg, die bure het krukke oorgestuur en 'n vrygewige weldoener het die stewel voorsien. God se voorsiening was oral duidelik.
Vir iemand wat daarvan hou om feitlik elke dag te stap, het hierdie onbeweeglikheid sy eie uitdagings gehad. Maar ek het tog gevind dat ek my eie liggaam, mobiliteit en my voete soveel meer waardeer het.
Ek het besef dat die daaglikse lewe miskien vervelig, alledaags en gewoon mag wees, maar dat dit tog 'n voorreg is. Dit het 'n besering geneem om my dankbaarheid te leer. Ek is met verwondering vervul toe ek besef hoeveel God reeds van die dag van ons geboorte aan ons gee. Hoe oorvloedig is die seëninge nie.
Ons is biologiese wonderwerke met 'n superrekenaar vir 'n brein. Ons kreatiewe potensiaal en innoverende vermoëns is geweldig. Nie een van ons is 'n ongeluk nie, ons is 'n weerspieëling van die Meestervakman.
Ek het ook nuwe waardering vir die werking van my voet. Ons is toegerus met spesifieke kenmerke om mobiliteit te verhoog – 26 beentjies, 33 gewrigte, as ook meer as 100 spiere, senings en ligamente, per voet. God se ontwerp is wonderlik.
Sluit asseblief hierdie maand by my aan terwyl ons 'n paar gedeeltes in die Woord bestudeer wat die simboliek van die voet openbaar en hoe om regop te bly te midde van al die lewe se uitdagings.
Gebed: Dankie liewe Heer, dat U ons toerus vir die lewe. Help my, en diegene wat hier lees, om te besef hoe oorvloedig U ons seën. Gee dat ons nooit elke klein detail wat ons en die lewe so spesiaal maak, as vanselfsprekend sal aanvaar nie. Amen