Dankbaar vir oorwinning oor sonde se mag - 20 April 2026
Ewald Schmidt
Dit weet ons: dat ons ou mens saam met Hom gekruisig is, sodat ons sondige bestaan tot niet gemaak kan word, en ons nie meer slawe van die sonde sal wees nie. Romeine 6:6, 2020-vertaling
Baie gelowiges worstel met dieselfde vraag: As ek regtig aan Christus behoort, hoekom sukkel ek nog met sonde? Soms voel dit asof die ou patrone in my lewe steeds ‘n groot invloed op my het – verkeerde woorde, verkeerde gedagtes, verkeerde gewoontes wat weer opduik. Dit kan 'n mens laat wonder of daar werklik verandering in jou lewe plaasgevind het.
Maar Romeine 6 bring vir ons 'n belangrike waarheid: In Christus het ons verhouding met sonde radikaal verander.
Paulus sê ons “ou mens” is saam met Christus gekruisig. Dit beteken dat die mag wat sonde oor ons gehad het, gebreek is. Voor ons tot geloof gekom het, was ons soos slawe onder 'n harde meester. Sonde het ons denke, ons begeertes en ons dade beheer. Ons kon nie regtig uit vrye wil kies om God te dien nie.
Maar deur Jesus se dood en opstanding het daar iets fundamenteel verander. Die kettings is gebreek. Die ou meester het nie meer dieselfde houvas op ons nie. Paulus sê daarom: “Die sonde mag beslis nie oor julle heers nie; julle is immers nie onder die wet nie, maar onder die genade.” (Romeine 6:14)
Dit beteken nie dat gelowiges nou regkry om sondeloos te leef nie. Ons bly mense wat elke dag moet stry teen ons ou natuur. Die verskil is egter dat sonde nie meer die laaste woord het nie. Ons is nie meer slawe nie. In Christus het ons 'n nuwe identiteit en 'n nuwe krag ontvang deur die Heilige Gees.
Daarom roep Paulus ons ook op om ons liggame beskikbaar te stel vir God – as instrumente in diens van God. Met ander woorde: die oorwinning wat Christus behaal het, moet nou sigbaar word in hoe ons leef. Elke keer wanneer ons kies om die Here te gehoorsaam, sien ons iets van hierdie nuwe vryheid.
Dankbaarheid vir oorwinning oor sonde se mag beteken dus nie dat ek perfek is nie. Dit beteken dat ek weet ek is nie meer vasgevang in sonde nie. Ek kan opstaan wanneer ek val. Ek kan weer na die Here toe kom. Ek kan groei in gehoorsaamheid, omdat Christus reeds die beslissende oorwinning behaal het.
Die evangelie sê dus: nie sondeloos nie, maar ook nie meer slaaf nie.
En dit is rede vir diepe dankbaarheid.
Gebed: Here, dankie dat U deur Jesus die mag van sonde gebreek het. Dankie dat ek nie meer 'n slaaf van sonde hoef te wees nie. Gee my deur u Gees die krag om elke dag vir U te leef en om my lewe beskikbaar te stel as 'n instrument van u geregtigheid. Amen.