Vers-n-dag Vers-n-dag
Vers-n-dag Vers-n-dag
  • tuisblad
  • dagstukkies
  • verse-a-day
  • intekening
    • english - verse-a-day

Geanker in Hom: Hy alleen ken jou verhaal - 9 Februarie 2026

Lauren Appolis
 
Probeer ek nou mense tevrede stel, of God? Of soek ek die guns van mense? As ek nog steeds mense se guns sou probeer wen, sou ek nie meer 'n dienskneg van Christus wees nie! Galasiërs 1:10, 2020-vertaling
 
Ongeveer 'n jaar gelede, het ek my in een van die moeilikste tye van my lewe bevind. Ek was 'n nuwe ma – en dit was glad nie soos die verwagte feëverhaal nie. Ek het 'n moeilike swangerskap gehad, en die eerste twee jaar van my dogtertjie se lewe was vol gesondheidsuitdagings. Voorheen het ek in feitlik elke area van my lewe gefloreer, en die erkenning wat ek daarvoor gekry het, het die brose fondament van my selfwaarde gevorm.
 
Gedurende die swangerskap het angs my lewe oorheers, nageboortelike depressie het my blydskap gesteel, en ek het soos 'n pretensieuse Christen begin voel. Ek was veronderstel om emosioneel ongeskonde te wees, en alles reg te kry. Ek het soos 'n algehele mislukking gevoel.
 
Hospitaalbesoeke het die norm geword. Die personeel het ons al by die naam geken. Stil, lang nagte langs haar bed, het daartoe gelei dat ek myself bevraagteken het. Al hierdie probleme In my persoonlike lewe het baie min krag vir my professionele lewe oorgelaat: my vorige 100% by die werk was nou so ongeveer 30% – net genoeg om te kan oorleef.
 
My beste was nie langer so verpak dat mense my daarvoor bewonder het nie. In hierdie diep, donker tyd, het die wêreld daar buite baie stil geword.
 
Die hemel het egter vir my en my 30% hande geklap. Selfs wanneer ek slegs 'n paar woorde kon fluister, het God nooit opgehou om trots te wees op my nie. Trouens, Hy het uit volle bors oor my gejubel.
 
Liewe vriend, jy wat miskien verlore, onsigbaar en uitgeput voel: jy hoef aan niks te voldoen nie – nie eers aan jou "beste" self nie. God het lank voor jou "beste" self, en heel moontlik ten spyte daarvan, Hom oor jou verbly.
 
Die uitdagings wat jy nou beleef en die beproewings wat Hy toelaat, is alles deel van sy plan met jou – om sy doel met jou te vorm. Vergelykings met die wêreld of die goedkeuring daarvan, is leeg: God alleen ken jou verhaal.
 
Die pragtige verhaal wat God vir ons lewens geskryf het, is soms moeilik om te glo. Hy is so trots daarop dat Hy gewillig was om daarvoor te sterf – vir ons – en Hy het. Vertrou die Regisseur van jou lewe. Jy was nog altyd die ster van die vertoning, en Hy glimlag breed daar waar Hy jou vanuit die voorste ry dophou. Hou jou oë op Hom gerig.
 
En op een mooi dag sal jy en ek ons kruis vir 'n kroon verruil.
 
Gebed: Vader, dankie dat U my raaksien en my deur al die fases van my lewe liefhet. Help my om u plan te vertrou en gee dat ek in u goedkeuring, en nie in die van die wêreld nie, hoop sal vind. Amen
 
Next article: God se liefde: Die vrug is soet - 6 Februarie 2027 Next

Copyright © 2024 Vers-n-dag. All Rights Reserved.