God se liefde: Die vrug is soet - 6 Februarie 2027
Lauren Appolis
Die vrug van die Gees, daarteenoor, is liefde, vreugde, vrede, geduld, vriendelikheid, goedhartigheid, getrouheid, nederigheid en selfbeheersing. Teen sulke dinge het die wet niks nie. Galasiërs 5:22-23, 1983-vertaling
Wat God as die vrug van die Gees uiteensit, is in wese die eienskappe van 'n persoon wat in die Gees van God wandel.
Pragtige woorde, pragtige eienskappe. Moeilik om elke dag, te alle tye, te handhaaf.
Here, hoe kan ek diegene wat my seermaak liefhê? Hoe kan ek bly wees wanneer alles verkeerd loop? Is dit selfs moontlik om vrede te hê wanneer ek so baie vrae het? Die lys gaan aan ...
In my vroeër lewe met Christus het ek besluit om alles wat ons teksgedeelte uiteensit, uit te leef. Ek was vasbeslote om lief te hê, maar kon nie daarin slaag nie. Ek het voorgegee dat ek vrede het, terwyl ek snags wakker lê en peins oor al my bekommernisse. Ek het myself gewing om alles getrou te benader en was op pad om uit te brand omdat ek 110% op my eie krag staat gemaak het.
In my eie krag.
Dit was die probleem. Hierdie eienskappe – liefde, vreugde, vrede, geduld, vriendelikheid, goedhartigheid, getrouheid, nederigheid en selfbeheersing – is vrugte: iets wat aan 'n boom groei, nie andersom nie. 'n Soet, sappige appel verskyn nie sommer nie – dit word deur die boom voortgebring.
Die bron van hierdie vrugte is die Heilige Gees. Net soos die appel nie sonder die boom kan bestaan nie, kan ons ook nie hierdie eienskappe sonder die Gees voortbring nie.
Dit bevry ons van die las om te probeer om 'n moeilike persoon op ons eie lief te hê. Ons kan liefhê, vreugde, vrede, geduld, vriendelikheid, goedhartigheid, getrouheid, nederigheid en selfbeheersing hê – nie in ons eie krag nie, maar omdat die Heilige Gees in ons woon. Net soos 'n appelboom natuurlik vrugte dra, produseer die Gees hierdie eienskappe in ons.
Hoe wonderlik dat God aan ons sy Gees gee om hierdie vrugte voort te bring en nie verwag dat ons dit in ons eie krag moet doen nie.
God se liefde en sy Gees dra deur sy krag pragtige vrugte wanneer ons in Hom bly. Jy is goedhartig omdat jy God ken. Jy kan onvoorwaardelik liefhê omdat jy God ken. Jy kan getrou wees omdat God getrou is. Jy kan hierdie harde wêreld deur jou vriendelikheid en goedhartigheid 'n bietjie versag, want Hy rus jou toe.
Jy is op 'n wonderlike manier geskape om vrug te dra wat ander seën en God verheerlik. Jy is uitverkies. Jy word innig liefgehê, kind van God.
Gebed: Dankie Here, dat U u Gees aan ons gegee het. Bly in my sodat ek goeie vrugte kan dra wat u liefde aan ander weerspieël. Amen