Wees anders: Sout van die aarde - 19 Januarie 2026
Andrea Sieberhagen
Julle is die sout van die aarde. Maar as sout verslaan het , hoe kry ‘n mens dit weer sout? Dit is niks meer werd nie. Dit word buitekant weggegooi, en die mense vertrap dit. Matteus 5:13, 1983-vertaling
Sonder sout is kos smaakloos. Sonder sout wil niemand dit eet nie. Voeg sout by en dit verander 'n smaaklose dis na iets wat eetbaar word, iets wat selfs lekker kan wees. Daar het iets verander. En dit is wat God van ons vra in die wêreld – dat ons 'n verandering te weeg sal bring Ons moet “sout van die aarde” wees.
Ons ken almal mense wat 'n verskil maak, maar heel dikwels in die negatiewe sin van die woord. Wanneer hulle 'n vertrek binnestap, sug jy, want jy weet al wat jy gaan hoor is klagtes en kritiek. Stories van tragedies en twis! Onsmaaklik wil jy uitroep
Is hulle nie dalk sout wat verslaan het nie? Niks werd nie.
Ons moet anders wees. Wanneer mense na ons kyk, moet hulle die verskil kan sien. Te midde van 'n negatiewe wêreld moet mense na ons kyk en wonder wat is anders? Wanneer almal om ons moedeloos kerm en kla moet ons kan opstaan en sê, “ja, maar …”
In ons positiewe lewensingesteldheid moet mense ons christenskap kan herken. Dit moet mense nader trek, nie wegstoot nie. As ons dit kan regkry, kry ons reg om ons christenskap te leef.
Gebed: Hemelse Vader, maak my die sout van hierdie aarde. Help my om myself na waarde te skat. Amen