Verbonde: Bly verbonde – wees gelukkig - 28 November 2025
Louise Gevers
Maar wie diep in die volmaakte wet van vryheid inkyk en daaraan hou, sal gelukkig wees in wat hy doen, omdat hy nie 'n vergeetagtige hoorder is nie, maar 'n doener. Jakobus 1:25, 2020-vertaling
Ek het een oggend wakker geword met die woorde: "Wat verlang die Here van jou?" in my gedagtes. Half deur die slaap het ek geantwoord: "Om te doen wat reg is, troue liefde te bewys en om nederig die pad met my God te loop." Hierdie woorde het my onmiddellik verbind met my Hoërskool saalbyeenkomste wat die prinsipaal elke oggend met 'n Bybelvers begin het en dan het die leerders geantwoord met dié woorde wat ons reeds in graad 8 geleer het. Ek is so dankbaar dat ek dit steeds onthou en inspirasie daaruit put.
Dink ek terug aan die verskeidenheid Bybelversies wat ons geleer het, staan ek steeds verstom oor die wysheid en goeie instruksies daarvan wat steeds my daaglikse lewe verryk. Ek het die saalbyeenkomste, of ons nou geprys of berispe is, altyd waardeer want ek het so baie geleer. Ek is God so dankbaar vir daardie toegewyde vrou van integriteit wat aan haar geloof vasgehou het in haar benadering om leerders met kennis en begrip vir wat belangrik in die lewe is toe te rus.
Jakobus beklemtoon ook die belangrikheid – om diep in "die volmaakte wet van vryheid" van God se woord in te kyk, nie net die evangelie van verlossing en vergifnis van sonde te hoor nie, maar te verstaan dat ons moet aanvaar dat deur God se genade ons van sonde en skuld vry gemaak word en die nuwe lewe in Christus ontvang. Dit is 'n oproep tot aksie, om deur geloof in Christus te leef, vergewe en vry, en om daaraan te hou. Wanneer ons egter die evangelie hoor, maar dit ons nie met God verbind nie en ons vergeet wat ons gehoor het, val ons terug en is ons ontnugter en onvervuld.
Dit stel my in staat om Paulus se aanmoediging aan die Kolossense te waardeer toe hy gesê het: "Laat die woord van Christus in sy volle rykdom in julle woon. Leer en vermaan mekaar, in alle wysheid, deur met dankbare harte psalms, lofgesange en geestelike liedere tot eer van God te sing. (Kolossense 3:16) Om dit met mekaar te deel en dit te onthou, bemoedig ons in moeilike tye, maar help ons selfs in ons volwasse lewe.
Dit is ver verwyderd van wat uitgebeeld word in die boek wat onlangs die Booker Prys gewen het en waar 'n leë lewe beskryf word. In 'n afskrif van 'n onderhoud tussen 'n joernalis en 'n boekresensent lees ek die volgende wat die resensent sê: "Ons leef in hierdie wêreld ... met 'n gebrek aan morele leiers ... hierdie boek laat jou dit met amper 'n fisiese pyn voel. Daar is niemand in hierdie boek om te bewonder nie ... Daar is geen teken dat beter onderwys, 'n beter opvoeding, van jou 'n beter mens sal maak nie. Dit is 'n amorele wêreld wat Szalay hier vir ons beskryf."
Deur in Jesus te leef bring vervulling en geluk. As ons standvastig in Hom bly en nie in moeilike tye ons oortuigings oorboord gooi nie, groei ons in geloof wat "baie kosbaarder is as goud" (1 Petrus 1:7) en ervaar vrede, hoop en blydskap wat in niks anders te vinde is nie.
Het jy al hierdie vervulling en blydskap ervaar?
Gebed: Here Jesus, U vervul en gee betekenis aan my lewe meer as wat woorde kan sê. Help my om altyd 'n doener van u Woord te wees en standvastig in U te bly. Amen.