Verbonde: Liefde, genade en opoffering - 27 November 2025
Louise Gevers
“God het die wêreld so liefgehad dat Hy sy enigste Seun gegee het, sodat dié wat in Hom glo, nie verlore sal gaan nie maar die ewige lewe sal hê. (Johannes 3:16, 1983-vertaling)
Maria en Marta het oor hulle broer, Lasarus, gehuil. Jesus het ook oor hom gehuil alhoewel Hy geweet het dat Lasarus binnekort uit die dood opgewek sou word. Jesus het oor Jerusalem en die vernietiging van hierdie heilige stad gehuil. Hy het egter nie saam met of oor Maria Magdalena wat by sy graf gehuil het, gehuil nie. Hy het geweet dat dit nie nodig was nie – Hy het net haar naam gesê ...
Het jy al ooit getreur oor iets wat verlore, gebreek of vernietig was – miskien as gevolg van jou eie aksies? Miskien het jy getreur oor die verlies van iemand vir wie jy lief was, of oor 'n tyd van jou lewe wat jy nooit weer kon oor hê nie – of so het jy gedink – of oor die verlies van 'n kosbare geleentheid, onmoontlik om terug te kry. Of miskien was dit die besef oor hoe groot jou sonde is en jy het geglo dat jy nie van God kon verwag om jou te vergeef nie.
God ken die wêreld wat Hy gemaak het, en Hy treur oor die sonde daarvan net soos 'n ouer oor 'n eiesinnige kind treur.
God sien die wêreldwye vyandelikhede raak wat die wêreld in somberheid en onsekerheid dompel. Mense word daagliks gekonfronteer met die gruwels wat in ander lande, sowel as in hul eie, gebeur. Hulle word in hulle eie woonkamers met tonele van vernietiging gebombardeer, terwyl roekelose, arrogante, onverantwoordelike dreigemente en die skynheiligheid van wêreldleiers hulle persoonlike ruimte binnedring.
God sien die verskriklike geslagsgeweld, misdaad teen kinders en bendegeweld, asook die immer teenwoordige korrupsie, dwelmmisbruik en verwante misdade.
God sien wanneer 'n 17-jarige seun skuldig pleit aan die moord van drie dogterjies tussen ses en nege – en poging tot moord van nog tien – tydens 'n vakansiekamp, en hoe kinders wat toenemend die waarde van menslike lewe minag, al hoe jonger is.
God sien hoe maklik hulle beïnvloed word deur twyfelagtige webwerwe en rekenaarspeletjies met agressiewe, visuele beelde wat hulle jong verstand manupileer en met duisternis vul, en hulle ook wys hoe maklik toeganklik wapens is.
Ons teksvers vir vandag is in wese God se hart, dit vertel van sy groot liefde en opoffering vir sy kinders, van hoe Hy met onmeetbare genade en deernis uitreik na 'n wêreld vol sonde en pyn, met liefde wat alles gee: "Niemand het groter liefde as dit nie: dat hy sy lewe vir sy vriende aflê." (Johannes 15:13) Hy stuur sy enigste Seun, Jesus, die enigste volmaakte offer om "sy lewe af te lê" vir die mensdom "sodat dié wat in Hom glo, nie verlore sal gaan nie maar die ewige lewe sal hê."
Jesus huil oor jou en my, en saam met ons wanneer ons huil. Het Hy jou al by die naam genoem?
Gebed: Dierbare Vader, daar is niemand soos U nie, U beskik oor allesomvattende mag, is ryk aan heerlikheid en genade. Ek loof U omdat U almagtig is en niemand buite u bereik is nie. Dankie vir u groot liefde en genade wat U nou en tot in ewigheid aan u kinders bewys. Amen