Vers-n-dag Vers-n-dag
Vers-n-dag Vers-n-dag
  • tuisblad
  • dagstukkies
  • verse-a-day
  • intekening
    • english - verse-a-day

Psalm of vyf: Psalm 46 - 9 Oktober 2025

Charlea Grey
 
God beskerm ons en Hy maak ons sterk, Hy is altyd gereed om ons te help. Daarom is ons nie bang nie, ook nie wanneer die aarde skud, en die berge tot in die see val nie, ook nie wanneer die water van die see raas en skuim, en sy wilde branders die berge laat bewe nie. Psalm 46:2-4, Bybel vir almal
 
Ek is 'n beheervraat. Ek gee nie om om dit te erken nie. Dit is is helaas wie ek is. Ek hou daarvan om te beplan, ek hou daarvan om te weet wat kom en ek verkies om die dinge wat ek kan beheer, te beheer.
 
Ha! Ek weet, ons leef nie in 'n wêreld waar ons alles en almal om ons kan beheer nie. Inteendeel. Meeste dinge voel maar redelik dikwels buite beheer. En as 'n mens van beheer hou, is dit genoeg om jou erg te ontsenu.
 
Met die eerste oogopslag lyk dit of Psalm 46, net soos Psalm 91, oor God se beskerming gaan. En dit is inderdaad so. Maar wanneer ek by vers 3 en 4 stilstaan, gaan dit vir my nie net oor God se beskerming wanneer dinge ontstuimig, onvoorspelbaar en swaar is nie. Vir my gaan dit oor God wat in beheer is.
 
En dít is op die ou einde my troos wanneer dinge buite my beheer my oorweldig en te veel raak. Dan herinner ek myself dat God op die ou einde in beheer is en dat ek maar kan laat gaan. Want kom ek wees eerlik, dit kan baie uitputtend raak as 'n mens als om jou probeer beheer.
 
Om te weet God is daar wanneer jou wêreld skud, wanneer die golwe dreig om jou te laat verdink en die berge rondom jou net groter en groter raak, is eintlik een van die grootste geskenke wat Hy vir ons gee. Ons moet soms net leer om daardie wonderlike geskenk te aanvaar en te omarm.
 
Gebed: Here, dankie dat U altyd in beheer is. Dankie dat U my sal dra en beskerm wanneer die see rof raak en ek nie meer beheer het nie. Amen.
 
Previous article: Psalm of vyf: Psalm 139 - 10 Oktober 2025 Prev Next article: Psalm of vyf: Psalm 91 - 8 Oktober 2025 Next

Copyright © 2024 Vers-n-dag. All Rights Reserved.