Vers-n-dag Vers-n-dag
Vers-n-dag Vers-n-dag
  • tuisblad
  • dagstukkies
  • verse-a-day
  • intekening
    • english - verse-a-day

Psalm of vyf: Psalm 23 - 7 Oktober 2025

Charlea Grey
 
Ook wanneer ek deur 'n diep en donker vallei moet loop, dan sal ek nie bang wees nie, want U, Here, is by my. U beskerm my soos 'n herder sy skape beskerm met sy stok en met sy kierie. Psalm 23:4, Bybel vir almal
 
As tiener was ek lief daarvoor om deur die boek van Psalms te blaai. Wanneer ek nie geweet het wat om te lees nie, het ek graag 'n psalm gekies.
 
Psalm 23 is volgens 'n vinnige Google-soektog ook inderdaad die bekendste psalm in die Bybel. Dis is glo oor die vertroostende aard van die psalm – veral vers vier.
 
Die “donker dieptes” of “diep en donker vallei” soos hier bo genoem, is iets waarmee elke mens kan identifiseer. Daar is min van ons wat nog nie deur swaarkry of hartseer gekonfronteer is nie. Die werklikheid is wel dat daardie diep en donker vallei vir elkeen van ons anders lyk. Dit lyk ook anders in al die verskillende lewensfases waardeur ons gaan.
 
Kan jy nog onthou wat die donker dieptes was toe jy 'n tiener was? En in 'n mens se twintigs kan dit weer heel anders lyk. Wanneer jy later kinders het, word jy met nuwe vrese gekonfronteer en wanneer jy jou middeljare ingaan kan skete, pyne en ernstige siektes 'n heel nuwe donker vallei wees.
 
Ja, ongelukkig is die lewe vol donker valleie. Dis dalk hoekom hierdie vers in Psalm 23 so geliefd is. Wanneer dit swaar gaan, is dit nodig om opnuut daaraan herinner te word dat ons nie alleen is nie. Maar nie net dit nie, dat daar Iemand is wat ons sal beskerm.
 
Ek weet nie hoe jou donker vallei lyk nie. Dalk is jy gelukkig en bevind jy jou nie nou op so plek nie. Dalk is dit nog 'n lang pad voor jy weer by die lig gaan uitkom. Herinner jouself vandag aan die psalmdigter se woorde. Jy is nie alleen nie en God sal jou beskerm.
 
Cliché of nie, daar is 'n baie goeie rede waarom Psalm 23 die wêreld se mees geliefde psalm is. Ek hou opnuut daaraan vas.
 
Gebed: Dankie Here, dat U my Herder is en dat U my na groen weivelde sal lei. Dankie dat U by my is, al gaan ek deur donker dieptes. Amen.
Previous article: Psalm of vyf: Psalm 91 - 8 Oktober 2025 Prev Next article: Psalm of vyf: Psalm 1 - 6 Oktober 2025 Next

Copyright © 2024 Vers-n-dag. All Rights Reserved.