Vers-n-dag Vers-n-dag
Vers-n-dag Vers-n-dag
  • tuisblad
  • dagstukkies
  • verse-a-day
  • intekening
    • english - verse-a-day

Somer: Groei om al meer soos Jesus te word! - 14 Augustus 2025

Ewald Schmidt
 
So sal ons uiteindelik almal kom tot die werklike eenheid in ons geloof en in ons kennis van die Seun van God. Dan sal ons, sy kerk, soos 'n volgroeide mens wees, so volmaak en volwasse soos Christus. Efesiërs 4:13, 1983-vertaling
 
Somer is die seisoen waarin ons verwag om vrug te sien – die tyd van rypwording en oes. Gister het ons stilgestaan by die vrug wat die Vader verheerlik: om lief te hê soos Jesus. Vandag neem Paulus ons nóg 'n stap verder – na die mikpunt van geestelike groei: om in alles te word soos Christus.
 
Ons geestelike groei is nie 'n solo-poging nie. Hierdie vers staan in 'n konteks wat beklemtoon hoe belangrik die geloofsgemeenskap in God se plan vir ons is. Efesiërs 4:3 roep ons op om die eenheid van die Gees te bewaar – die eenheid wat die Here self tussen gelowiges gesmee het. Ons word deel van sy liggaam, sy kerk, wanneer ons Jesus as Verlosser aanvaar.
 
Dis belangrik om vandag se teksvers raak te lees in die konteks daarvan. Vir om by die mikpunt van geestelike volwassenheid uit te kom, om soos Jesus te kan wees, is 'n paar dinge nodig om in plek te kom. Ek kan nie op my eie by die mikpunt uitkom nie!
 
Efesiërs 4:12 leer dat Jesus vir sy kerk mense gee – apostels, profete, evangeliste, herders en leraars – om ons toe te rus vir dienswerk, en om sy liggaam op te bou. Ons word nie net geroep om iets te weet nie, maar om iemand te ken: Jesus Christus. Dié kennis gaan veel dieper as blote verstandelike insig – dis 'n lewende verhouding. Ons leer Hom ken deur sy Woord, deur aanbidding saam met medegelowiges, en deur ons gawes prakties uit te leef in diens aan ander.
 
Wanneer ons groei in geloof en in liefde, word ons al hoe meer geestelik volwasse. En saam begin ons lyk soos Jesus – ons dra sy liefde, sy lig, en sy karakter uit in 'n wêreld wat dit bitter nodig het. Só maak ons 'n verskil: nie net individueel nie, maar saam, as sy kerk op aarde.
 
In hierdie somerseisoen van jou lewe, word jy geroep tot groei. Span jou in om Jesus al beter te leer ken. Doen moeite om een te wees met sy gemeente. Dien die mense wat Hy in jou lewe geplaas het. In diens en selfopoffering word Jesus sigbaar in ons midde.
 
Gebed: Here Jesus, dankie dat U die Hoof is van u kerk. Dankie dat ek deel van u liggaam op aarde mag wees. Dankie vir die medegelowiges wat U in my lewe geplaas het. Help my om eensgesind met hulle te strewe om te groei in geloof, en te dien soos U. Help my om geestelik volwasse te word, en so in die somerseisoen van my lewe vrugbaar vir U te wees. Amen.
 
Previous article: Somer: Kyk uit, die oes is ryp! - 15 Augustus 2025 Prev Next article: Somer: Die tyd om vrug te dra - 13 Augustus 2025 Next

Copyright © 2024 Vers-n-dag. All Rights Reserved.