Vers-n-dag Vers-n-dag
Vers-n-dag Vers-n-dag
  • tuisblad
  • dagstukkies
  • verse-a-day
  • intekening
    • english - verse-a-day

Somer: Die tyd om vrug te dra - 13 Augustus 2025

Ewald Schmidt
 
My Vader word juis daardeur verheerlik dat julle baie vrugte dra en my dissipels is.  Johannes 15:8, 1983-vertaling
 
Somer is die tyd wat ons gewoonlik met vrugte dra assosieer. Jesus gebruik die voorbeeld van druiwe in vandag se teksvers, en hulle oestyd in Israel is laat somer tot vroeg herfs, so Julie tot Augustus.
 
Jesus gebruik die beeld van die wingerdstok en die lote in Johannes 15 om ons verhouding met Hom uit te beeld. God die Vader is die hemelse Tuinier. Hy het die beste wingerdstok in hierdie wêreld geplant, en goed versorg. Dit is ons Here Jesus. Ons word vergelyk met lote wat op die Wingerdstok ingeplant is. Wanneer ons in Hom bly, dan dra ons baie vrug, sonder Hom bly ons onvrugbaar. Om waarlik te lewe, het ons die verantwoordelikheid ontvang om in Jesus te bly. Die wingerdstok voorsien alles wat die loot nodig het om vrug te dra – die water, die voedingstowwe en minerale wat nodig is om goed te presteer. Om waarlik te lewe, het ons nodig om in verhouding met Jesus ons lewe aan te pak. Hy is die Bron van lewende water (Johannes 4:13-14). Hy voorsien in alles wat ons nodig het om te lewe, en om die Here te dien, sê 2 Petrus 1:3.
 
Maar hoe bly ons in Jesus? Hy sê in Johannes 15:10 dat ons in sy liefde bly as ons sy opdragte uitvoer. Dan spel Hy sy belangrikste opdrag uit in vers 12: “Dit is my opdrag: Julle moet mekaar liefhê soos Ek julle liefhet.” Liefde is die belangrikste vrug wat ons lewe moet dra. Liefde soos Jesus se liefde vir ons. Dit is nie net 'n emosie nie, dit word 'n lewenswyse van omgee, raaksien en sorg vir die mense rondom ons.
 
Wanneer ons die vrug van liefde dra, dan verheerlik ons die Vader, sê ons teksvers. Ons lewens word die sigbare getuienisse van sy genade, krag en teenwoordigheid wat deur ons werk. Ons kom in pas met dit waarvoor die Here ons gemaak het. Die gevolg daarvan? Ons sal die blydskap van Jesus in ons lewe ervaar, sê Johannes 15:11. Ons blydskap in Hom sal volkome word. Dit is tog wat elkeen van ons die meeste begeer in ons lewe – om daardie vrede en blydskap met die Here, met ons naaste en in onsself te beleef.
 
In die somertyd van ons lewe is die opdrag: dra baie vrug tot eer van die Vader. Wees 'n seën vir die mense rondom jou. En jy sal Jesus se blydskap in oorvloed beleef deur die seisoene van jou lewe heen.
 
Gebed: Here Jesus, dankie dat U die goeie Wynstok is. Dankie dat ek in U ingeplant mag wees as 'n loot. Help my dan om die vrug van die liefde te dra wat die Vader sal verheerlik, en die mense rondom my sal voed. Here, ek mis soms nog u blydskap in my lewe. Help my waar ek nog nie genoeg vertrou en glo nie. Amen.
Previous article: Somer: Groei om al meer soos Jesus te word! - 14 Augustus 2025 Prev Next article: Somer: Die tyd om te werk - 12 Augustus 2025 Next

Copyright © 2024 Vers-n-dag. All Rights Reserved.