Sonder liefde is ek niks - 2 Julie 2025
Ben Fourie
... al het ek al die geloof om berge te versit, maar ek het nie liefde nie, is ek niks! 1 Korinthiërs 13:2b
'n Student het een dag by sy professor beswaar gemaak omdat sy vraestel nie nagesien is nie. Die betrokke professor was berug daarvoor, dat as jou werk nie op standaard is nie, hy jou maklik 'n nul of selfs 'n minus punt gegee het. In die betrokke student se geval was daar egter geen punt op die vraestel aangedui nie. Die professor se antwoord was dat hy wel die vraestel nagesien het, maar die student se werk was van so 'n swak gehalte dat hy nie 'n nul kon gee nie en selfs 'n minus punt sou nog te goed gewees het. Toe gee hy die student 'n ‘niks’.
Elke slag as ek 1 Korinthiërs 13 lees, dink ek aan die storie. Om ‘niks’ te wees is erger as om 'n nul of 'n minus te wees en volgens Paulus is ek 'n ‘niks’ as ek nie die liefde het nie. Die Bybel se hele verhaal draai daarom dus om liefde. In die Ou Testament is daar verskillende woorde vir liefde, maar die twee mees gebruikte Hebreeuse woorde is "ahavah" en "hesed".
In die Nuwe Testament het ons vier woorde naamlik "agapé, philia, eros" en "storge". Ons gaan nie 'n uiteensetting probeer gee van watter woord in watter verband gebruik word nie. Belangrik is dat die woorde verwys na God se liefde vir ons, ons liefde vir Hom, ons liefde vir mekaar as mense in die algemeen en familielede in die besonder en selfs ook ons liefde vir 'n ander persoon op seksuele vlak. 'n Pragtige voorbeeld van laasgenoemde is byvoorbeeld die boek Hooglied.
Die belangrike is dat volgens my konkordansie die woorde lief, liefde, liefhê en nog ander soortgelyke woorde, meer as sewehonderd keer in die Bybel voorkom. Die Tien Gebooie praat dwarsdeur van liefde, ja, elke gebod is geskoei op die beginsel van liefde.
Daarom sê Jesus wanneer Hy die wet saamvat in Matteus 22:37-40: “Jy moet die Here jou God liefhê met jou hele hart en met jou hele siel en met jou hele verstand. Dit is die belangrikste en die eerste gebod. En die tweede wat hieraan gelykstaan, is, ‘Jy moet jou naaste liefhê soos jouself’. Op hierdie twee gebooie berus die hele Wet en die Profete”.
Gebed: Here, soms is ek so bang dat ek dalk 'n niks is omdat my liefde vir U en my medemens so ver tekortskiet. Laat my tog hierdie vrees oorwin. Amen