Vers-n-dag Vers-n-dag
Vers-n-dag Vers-n-dag
  • tuisblad
  • dagstukkies
  • verse-a-day
  • intekening
    • english - verse-a-day

Heiligheid en liefde - 1 Julie 2025

Ben Fourie
 
Hulle het na mekaar geroep en gesê: "Heilig, heilig, heilig is die Here, Heerser oor alle magte! Die aarde is vol van sy heerlikheid.” Jesaja 6:3, 2020-vertaling
 
In die visioen wat Jesaja hier beskryf, kom 'n mens onder die indruk van die grootheid en heiligheid van God. Telkens wanneer ek dit lees, ervaar ek hoe totaal anders God is. Vir die teoloog Karl Barth is God as die “gans andere” sentraal tot sy hele teologie.
 
God is so hoog verhewe bo die mens en sy wêreld, dat jy amper wil vra of kontak enigsins moontlik is tussen ons en God, wat nog te sê van liefde. As Jesaja wat baie naby God geleef het as een van sy profete, so oorweldig is deur die visioen dat hy maar net kan uitroep: “Dit is klaar met my! Ek is verlore!” wat dan van ons?
 
Hoe ouer ek word hoe meer kom ek onder die indruk van die misterie van God. Toe ek jonk was het ek gedink ek het al die antwoorde oor God, maar nou begin ek al meer besef dat Hy werklik gans anders is as wat ek nog altyd gedink het. Toe ek onlangs weer oor Franciscus van Assisi lees, het ek begeer om iets van die mistiek wat hy in sy verhouding met God geken het, te beleef.
 
Dan kom ek telkemale terug by die vraag oor God se liefde vir my en my liefde vir Hom. Hoe werk dit? As ek nie eers aldag verstaan hoe die liefde vir my vrou en kinders en kleinkinders werk nie, hoe wil ek verstaan wanneer die Bybel sê dat God my liefhet. Ek, nietige klein mensie, gesien teen die agtergrond van Jesaja se visioen. Kom ons luister na Jesaja 6:1,4: “In die sterfjaar van koning Ussia het ek my Heer sien sit op ‘n hoë en verhewe troon. Die some van sy kleed het die tempel gevul ... Die deurpenne in die drumpel het gebewe van die geluid van die een wat roep. Die tempel het vol rook geword.”
 
Het hierdie groot God my lief?
 
Kom stap die maand saam met my dan kyk ons hoe die verhaal van God se liefde vir ons ontvou, asook die wisselwerking van my liefde vir Hom en my medemens.
 
Gebed: Ons Hemelse Vader, help my asseblief om meer te verstaan van u liefde vir my. Amen
Previous article: Sonder liefde is ek niks - 2 Julie 2025 Prev Next article: God se beste nuus: Dit begin en eindig met Jesus - 30 Junie 2025 Next

Copyright © 2024 Vers-n-dag. All Rights Reserved.