God se getrouheid en grootheid - 25 Februarie 2025
Ruanne van Zyl
Wat die Here sê, gebeur, alles wat Hy doen, staan vas. Hy het geregtigheid en reg lief, die hele wêreld is vol van die Here se troue liefde. Psalm 33:4-5, 1983-vertaling
Psalm 33 is 'n lofpsalm wat die klem plaas op die grootheid, getrouheid en mag van God. Dit nooi ons uit om opnuut die wonder van sy skepping te bewonder en sSy hand in ons lewens te herken. Dit is nie net 'n lied oor die wêreld rondom ons nie, maar ook oor God se karakter – sy waarheid, geregtigheid, en liefde.
Die psalm herinner ons dat alles wat God sê, betroubaar is. Sy woord is magtig en regverdig. Wanneer die wêreld onseker is, kan ons ons anker in sy waarheid vind. Wat Hy belowe, sal gebeur, en op sy dade kan ons bou. Dit is 'n uitnodiging om Hom heelhartig te vertrou – in goeie sowel as moeilike tye.
Verder vestig die psalm ons aandag op die aarde wat gevul is met die goedheid van die Here. Wanneer ons om ons kyk, sien ons die bewys van sy handewerk: die lug, die berge, die see – alles getuig van sy kreatiwiteit en sorg. Selfs wanneer dinge vir ons chaoties of betekenisloos voel, herinner hierdie verse ons dat God nie net die Skepper is nie, maar ook die Een wat alles in sy hand hou.
Psalm 33 dui ook aan dat die Here aktief by sy mense betrokke is. “Kyk, die Here hou sy oog op dié wat vir Hom ontsag het ..." (Psalm 33:18a, 2020-vertaling). Dit beteken dat God jou sien en verstaan. Hy kyk nie net van 'n afstand af nie – Hy is nou betrokke in jou lewe. In jou vreugde sowel as jou hartseer is Hy daar met sy onfeilbare liefde en trou.
Hierdie psalm moedig ons aan om te lofprys, ongeag ons omstandighede. Ons loof nie net omdat alles reg is in ons lewens nie, maar omdat ons vertroue lê in 'n God wat altyd goed is.
Gebed: Here, ek loof U vir u grootheid en goedheid. Help my om op u waarheid en trou te vertrou en om u liefde en genade elke dag in my lewe te erken. Ek plaas my hoop in U. Amen.