Vertroue in die Here vir lig en redding - 24 Februarie 2025
Ruanne van Zyl
Die Here is my lig en my redding – vir wie sal ek vrees? Die Here is die toevlug van my lewe vir wie sal ek bang wees? Psalm 27:1, 2020-vertaling
Psalm 27 is een van Dawid se pragtige lofliedere, vol geloof en hoop in God, selfs in die aangesig van gevaar. Dit bied 'n uitnodiging om vas te hou aan God as ons lig, redding, en toevlug. In hierdie Psalm vind ons kragtige waarhede oor hoe om te vertrou, te wag, en te rus in die Here.
In Psalm 27:1 sien ons Dawid se onbevreesde vertroue. Hy verklaar dat God sy lig is – die een wat duisternis verdryf en leiding bied. Boonop is God sy redding – die een wat hom van sy vyande en omstandighede red. Hierdie woorde herinner ons dat ons in God ons toevlug en sekuriteit het, maak nie saak wat ons in die gesig staar nie.
In die daaropvolgende verse beskryf Dawid sy vaste vertroue, selfs wanneer vyande hom bedreig: "Al sou 'n leër teen my laer opslaan, sal my hart nie bang wees nie; al sou 'n oorlog teen my uitbreek, sal ek nogtans bly vertrou." (Psalm 27:3). Hierdie geloof is gewortel in Dawid se verhouding met God – sy fokus is nie op sy omstandighede nie, maar op sy Verlosser.
Dawid se grootste begeerte is nie slegs veiligheid of oorwinning oor sy vyande nie, maar eerder gemeenskap met God. Hy sê: "Een ding het ek van die Here gevra en dit sal ek bly nastreef: om al die dae van my lewe in die huis van die Here te woon ..." (Psalm 27:4a). Hierdie vers wys ons waar die bron van ware vrede en vervulling gevind word – in God se teenwoordigheid.
Psalm 27 eindig met 'n opdrag en 'n belofte: “Wag op die Here! Wees sterk en hou moed, ja, wag op die Here!" (Psalm 27:14). Om te wag beteken om in geloof te bly vertrou, selfs wanneer antwoorde stadig kom. Ons weet dat God getrou is en dat Hy volgens sy tyd sal optree.
Gebed: Here, U is my lig, my verlossing, en my toevlug. Help my om op U te vertrou, selfs te midde van vrees. Vul my met die begeerte om u teenwoordigheid te soek en te wag op u tyd en wil. Dankie dat ek in U volkome sekuriteit het. Amen.