Roep na herstel en verlossing - 17 Februarie 2025
Ruanne van Zyl
O God, herstel ons, laat u aangesig skyn, sodat ons verlos kan word. Psalm 80:4, 1933/1953-vertaling
Psalm 80 is 'n hartroerende gebed van Israel in 'n tyd van nood en vernedering. Die skrywer rig 'n dringende beroep tot God vir herstel en verlossing. Hierdie Psalm herinner ons daaraan dat selfs in donker tye ons fokus op God gerig moet wees – die enigste Een wat ware herstel en verlossing bring.
Die Psalm begin met die oproep tot die “Herder van Israel” (Psalm 80:2) om sy volk te help. Hierdie beeld van God as die Herder dui op sy sorg en beskerming. Soos 'n goeie herder, lei en voed Hy sy kudde. Wanneer ons verlore voel of bedreig word deur die uitdagings van die lewe, kan ons op hierdie Herder vertrou om ons veilig terug te bring.
Die refrein, herhaal in verse 4, 8 en 20, is 'n noodkreet: “O God, herstel ons, laat u aangesig skyn, sodat ons verlos kan word.” Hierdie woorde vang 'n diepe hunkering na God se teenwoordigheid vas. “Laat u aangesig skyn” herinner aan die priesterlike seën (Numeri 6:24-26) en dui op God se genade, guns en die vrede wat slegs Hy kan gee.
Die middelste gedeelte van die Psalm beskryf die volksnood. Die metafoor van Israel as 'n wingerdstok (Psalm 80:9-16) bring die waarheid na vore dat God self hulle geplant en laat groei het, maar weens hulle afwyking het hulle seën plek gemaak vir oordeel. Tog, selfs hier, is daar hoop: die wingerdstok kan herstel word as hulle na God terugkeer.
Psalm 80 leer ons om God te soek, selfs wanneer omstandighede hopeloos lyk. Dit vra 'n houding van selfondersoek en 'n hunkering na 'n hernude verhouding met Hom. Soos Israel bid, word ons uitgedaag om eerlik voor God te kom en ons tekortkominge te bely, terwyl ons sy liefde en genade vra om ons te herstel.
Gebed: Herder van my siel, laat u aangesig oor my skyn. Lei my terug na U wanneer ek afdwaal en bring herstel in elke gebroke aspek van my lewe. Ek vertrou op u genade en u mag om te verlos. Amen.