Vers n dag - 8 Mei 2012
Hulle het gegee wat hulle kon – Deel II
Neville Turley
"Gee, en vir julle sal gegee word: 'n goeie maat, ingestamp, geskud en propvol, sal hulle in julle hande gee. Met die maat waarmee julle meet, sal ook vir julle gemeet word.” Lukas 6:38
Gister het ek geskryf oor die arm weduwee wat twee muntstukkies (Markus 12:41-44) en die seuntjie wat vyf garsbrode en twee vissies (Johannes 6:1-14) gegee het. Beide het met groot opoffering gegee wat hulle kon.
Om te gee, was nog altyd deel van Christen wees. In 2 Korintiërs 8:1-4 lees ons van die gemeentes in Masedonië. Hulle het ook in swaar ekonomiese tye geleef, maar hulle blydskap was so groot dat hulle oorvloedig was in hulle vrygewigheid. Hulle was arm maar hulle het soveel as wat hulle kon, gegee.
Die storie gaan aan. In die biblioteek van die Bybelhuis in Kaapstad is daar 'n ietwat verweerde mielie. 'n Zulu seuntjie in 'n eenmanskooltjie op die platteland van KwaZulu-Natal was diep geraak toe sy onderwyseres op 'n dag vir hulle die verhaal van Mary Jones vertel. Mary se soeke na 'n Bybel het aanleiding gegee tot die stigting van die Bybelgenootskapbeweging sodat Bybels vir almal beskikbaar gestel kan word.
Die seuntjie se ma het op dié dag vir hom middagete ingepak – een mielie. Hy het sy onderwyseres gevra om die mielie aan die Bybelgenootskap te stuur sodat hulle vir iemand 'n Bybel kon gee.
'n Netjiese pakkie met die mielie binne-in het deur die pos Bybelhuis bereik. Hy het gegee wat hy kon.
Die storie het nie daar geëindig nie. 'n Personeellid van die Bybelgenootskap het die storie van die seuntjie en die mielie by 'n internasionale vergadering met ander Bybelgenootskapkollegas gedeel. Hulle was diep geraak deur die vrygewigheid van die seuntjie wat bereid was om honger te ly sodat iemand anders 'n Bybel kon kry. Die storie is deur 'n aantal Bybelgenootskappe in ander lande gebruik om mense aan te moedig om te gee wat hulle kan sodat iemand anders 'n Bybel kan kry.
Gebed: Hemelse Vader, help ons om te doen wat ons kan om ander te help en daardeur u Naam te verheerlik. Amen.