Vers n dag - 7 Mei 2012
Hulle het gegee wat hulle kon – Deel I
Neville Turley
Gee, en vir julle sal gegee word: 'n goeie maat, ingestamp, geskud en propvol, sal hulle in julle hande gee. Met die maat waarmee julle meet, sal ook vir julle gemeet word.”
Lukas 6:38
'n Merkwaardige verhaal word in die Evangelies vertel van 'n weduwee wat gegee het wat sy kon. Jy kan dit in Markus 12:41-44 en in Lukas 21:1-4 lees.
Jesus was by die offergawekis in die tempel en hy het gesien hoe ryk mense hulle geld daarin plaas. Toe kom daar 'n arm weduwee wat twee klein muntskukkies ingooi.
Jesus was diep geraak deur haar daad. Hy het sy dissipels nader geroep en vir hulle gesê: “Dit verseker Ek julle: Hierdie arm weduwee het meer ingegooi as al die ander mense wat iets in die offergawekis gegooi het. Hulle het almal uit hulle oorvloed iets ingegooi, maar sy het in haar gebrek alles ingegooi wat sy gehad het, alles waarvan sy moes lewe.” Markus 12:43-44.
Om arm te wees is geen verskoning om nie te gee nie. In Deuteronomium 16:16-17 word alle mans beveel om drie keer 'n jaar by 'n plek saam te kom om God te aanbid. “Elkeen moet 'n geskenk bring in die mate waarin die Here jou God jou voorspoedig gemaak het.”
In hierdie moeilike tye kan baie van ons eerlik sê dat ons swaarkry en nie baie kan doen nie. Dit is egter geen verskoning om niks te doen nie. Die wonderwerk toe Jesus vyf duisend mense gevoed het (Johannes 6:1-14) is moontlik gemaak deur 'n seuntjie in die skare wat alles gegee het wat hy gehad het – vyf garsbrode en twee vissies. Hy het alles gegee wat hy gehad het en niemand kan meer as dit doen nie …
Gebed: Almagtige Vader, dankie vir die baie seëninge wat ons ontvang. Skenk aan ons die genade om ruimhartig te kan gee. Amen