Vreugde en sekuriteit in God - 6 Februarie 2025
Ruanne van Zyl
U wys my die pad van die lewe: oorvloedige vreugde in u teenwoordigheid, lieflikhede in u regterhand, vir altyd. Psalm 16:11, 2020-vertaling
Psalm 16 is 'n lied van vertroue en vreugde in die Here. Dit herinner ons aan die seëninge wat ons ervaar wanneer ons ons hoop en sekuriteit in God plaas. Dawid, die skrywer van die Psalm, verklaar hier dat die Here sy toevlug, erfdeel en raadgewer is, en hy getuig van die oorvloedige blydskap wat in God se teenwoordigheid gevind word.
Psalm 16:1 (1933/1953-vertaling) begin met die woorde: “Bewaar my, o God, want by U skuil ek.” Hierdie eenvoudige, maar kragtige versoek wys ons dat ware veiligheid net by God te vinde is. Te midde van uitdagings en storms kan ons, soos Dawid, ons lewens aan God toevertrou, wetende dat Hy ons beskerm en lei. Hy is ons toevlug – nie net in tye van nood nie, maar ook in die alledaagse oomblikke van die lewe.
Psalm 16:5-6 stel dit so mooi: "Here, my erfdeel, my beker, U bepaal my lot. Die meetsnoere het vir my in lieflike plekke geval, Ja, my erfenis is vir my mooi." Hierdie woorde herinner ons daaraan dat ons blydskap nie van materiële besittings of omstandighede afhang nie. Ons grootste skat is God self. Hy is ons erfdeel, en wanneer ons in Hom vreugde vind, sal ons lewe oorgaan van oorvloedige tevredenheid.
Nog 'n hoogtepunt in hierdie Psalm is vers 11, wat die ewige natuur van ons vreugde in God onderstreep. Hier word ons verseker dat God ons die pad van die lewe wys – 'n pad gevul met blydskap en beloftes van sy liefde. Hierdie lewe begin hier en nou in 'n verhouding met Hom, maar duur voort in ewigheid.
Wat ook al jou situasie vandag is, onthou dat God jou anker is. Vind jou sekuriteit, vreugde en hoop in Hom. Hy is getrou, en sy teenwoordigheid bring ware lewe. Laat hierdie Psalm jou aanmoedig om jou oë op Hom te hou, want daar is geen beter plek om jou vertroue te plaas nie.
Gebed: Here, dankie dat ek in U my toevlug en blydskap kan vind. Lei my op die pad van die lewe en help my om U altyd te vertrou. Mag ek elke dag leef in die oorvloedige vreugde van u teenwoordigheid. Amen.