Die krag van God se Woord - 5 Februarie 2025
Ruanne van Zyl
U woord is 'n lamp vir my voet en 'n lig vir my pad. Psalm 119:105, 1933/1953-vertaling
Psalm 119 is die langste hoofstuk in die Bybel, en dit is vol lof en oordenking oor die skatte wat in God se Woord te vinde is. Hierdie Psalm herinner ons daaraan dat die Bybel nie net 'n boek is nie, maar 'n lewende gids wat ons help om God se wil te verstaan en in gehoorsaamheid te lewe.
In 'n wêreld wat so dikwels deur twyfel en verwarring gekenmerk word, bied God se Woord lig op ons pad. Vers 105 beskryf dit treffend as 'n lamp vir ons voete en 'n lig vir ons lewensreis. 'n Lamp wys nie altyd die hele pad vorentoe nie, maar gee genoeg lig vir die volgende tree. Net so lei God ons een stap op 'n slag. Ons taak is om te vertrou en gehoorsaam te wees aan sy leiding.
Psalm 119 herinner ons ook aan die waarde van gehoorsaamheid. Psalm 119:11 sê: “Ek het U woord in my hart gebêre, dat ek teen U nie sal sondig nie.” Wanneer ons God se Woord leer ken en in ons harte bewaar, word dit 'n kragtige wapen teen versoeking en sondes. Dit help ons om volgens sy wil te leef en ons weg van misleiding en selfvernietiging af te hou.
God se Woord bied ook bemoediging en troos. Psalm 119:50 (1983-vertaling) sê: “Dit is my troos in my ellende: dat u belofte my in die lewe hou.” Wanneer ons deur uitdagings gaan, kan die beloftes van die Skrif ons ophef en versterk. Dit verseker ons van God se liefde, sy getrouheid en sy almag.
Laat ons nie vergeet dat die Woord nie net iets is wat ons lees nie, maar iets wat ons toepas. Dit vra van ons 'n ingesteldheid van nederigheid, gehoorsaamheid en 'n diepe afhanklikheid van God. Deur sy Woord leer ons om op Hom te vertrou, en ons geloof word sterker soos ons sy leiding ervaar.
Gebed: Here, dankie vir u Woord wat my lei en verlig. Help my om dit nie net te lees nie, maar om dit met toewyding in my lewe toe te pas. Gee my die moed om U in alle omstandighede te vertrou. Amen.