Imogen Campbell
 
Verder, broers, alles wat waar is, alles wat edel is, alles wat reg is, alles wat rein is, alles wat mooi is, alles wat prysenswaardig is – watter deug of lofwaardige saak daar ook mag wees – daarop moet julle julle gedagtes rig. Filippense 4:8, 1983-vertaling
 
Skip Heizig, 'n senior pastoor van Calvary Church, is 'n baie begaafde prediker wat groot insig aan die dag lê wanneer hy die Woord van God verduidelik.
 
'n Paar jaar gelede vertel hy hoe hy homself met breinbloeding in die noodafdeling van 'n hospitaal bevind het. Hy was baie bekommerd. Hy het verstaan dat hy moontlik 'n beroerte kon kry, en daarom was sy gedagtes baie donker.
 
Dit was toe dat sy vrou, Leyna, hom daaraan herinner het om selfs in sy gedagtewêreld aan Christus gehoorsaam te wees en hom aangemoedig het om op ons teksvers vir vandag te fokus. Hy het toe besluit om homself aan Jehova Rapha, die God wat genees – aan Jesus, die Groot Geneesheer – toe te vertrou. Skip het bewys dat dit belangrik is om ons woorde in aksie om te sit.
 
Toe ek hierdie verhaal gehoor het (https://www.youtube.com/watch?v=CLdRcG2RKng&t=1461s), was ek besig om met my eie persoonlike probleme te worstel, en ek het daar en dan besluit as Skip op so 'n moeilike tyd van sy lewe die bybelse boodskap in werking kan stel, kan ek ook. Sy openlike erkenning het baie ander geïnspireer, soos 'n mens in die aanmerkings na die video kon sien, maar dit het ook bevestig dat iets wonderliks kan gebeur as ons God vertrou en ons gedagtes deur sy Woord gerig word.
 
So, wanneer die drieling – vrees, angstige gedagtes en selftwyfel – hulle opwagting maak en hard probeer dat ons van ons geloof en vertroue in God moet afsien, kan ons teen hulle standpunt inneem.
 
Een van past Heizig se stellings wat my persoonlik bemoedig het, was die volgende: "Ek ken nie my toekoms nie. Ek ken slegs die Een wat my toekoms ken en beheer." Corrie ten Boom het op 'n keer iets soortgelyks gesê: "Moet nooit bang wees om 'n onbekende toekoms aan die God wat jy ken toe te vertrou nie." Ek het Skip se storie nie net met julle gedeel nie, maar ook reeds met baie ander wat moedeloos of depressief gevoel het en baie is daardeur vertroos.
 
"Aan God, die Vader van ons Here Jesus Christus, kom al die lof toe! Hy is die Vader wat Hom ontferm en die God wat in elke omstandigheid moed gee. In elke moeilikheid bemoedig Hy ons. Daarom kan ons ook ander bemoedig wat in allerlei moeilikhede verkeer. Ons kan hulle bemoedig met dieselfde bemoediging waarmee God ons bemoedig ..." (2 Korintiërs 1:3-4)
 
Mag die Woord, ongeag die omstandighede, altyd in ons harte wees. Ons weet nooit wie ons geloof in aksie moet sien nie. Dit mag dalk net 'n ander gelowige in moeilike omstandighede aanmoedig om God waarlik te vertrou.
 
Gebed: Hemelse Vader, dankie dat U ons in geloofsgemeenskappe plaas waar ons ons geloof kan uitleef en beoefen. Dankie dat ons vir mekaar kan omgee en tot seën kan wees vir diegene wat ons nodig het. Here, ons verheerlik U want U is die Een wat alles moontlik maak. Amen