Imogen Campbell
 
Die draak was woedend oor die vrou en hy het weggegaan om oorlog te maak teen haar ander nakomelinge wat die gebooie van God nakom en aan die getuienis vashou wat Jesus gelewer het. Openbaring 12:17, 1983-vertaling
 
Wonder jy nog hoekom daar nie vrede in die wêreld is nie? Dit is omdat die draak woedend is oor Christene, oor enigiemand wat Jesus wil gehoorsaam. Hy is definitief nie vredeliewend nie.
 
"Wees nugter, wees wakker! Julle vyand, die duiwel, loop rond soos 'n brullende leeu, op soek na iemand om te verslind. Bly standvastig in die geloof en staan hom teë. En moenie vergeet nie: dwarsdeur die wêreld moet julle medegelowiges dieselfde soort lyding verduur." (1 Petrus 5:8-9)
Of ons nou daarvan hou of nie, ons het 'n vyand. Hy is gemeen en volkome veragtelik. Hy het sy plek in die hemel opgegee en nou wil hy die res van ons saam met hom en al die gevalle engele, die hel intrek. En niks sal hom stuit om dit te doen nie, selfs al beteken dit hy kom God keer op keer te na. En dan wonder ons hoekom God hom uit die hemel geskop het.
 
God is nie van plan om dit te verdra nie en Hy is nie gewillig om sy heiligheid in gedrang te bring net om Satan se gebrek daaraan te bevredig nie. Die God wat ons dien, is 'n God wat sy perke ken en weet wat vir Hom aanvaarbaar is. Hy hoef nie aan die grille van enige mens of gevalle engel toe te gee nie. Hy is God en ons, sy skepping en almal wat deur Hom gemaak is, moet volgens sy reëls leef. Einde van die storie!
 
Die dag toe jy voor getuies bely het "Jesus is die Here" en jou Christenreis begin het, het jy die duiwel se jongste vyand geword. En hy het 'n magtige leër wat elke oomblik werk om jou te kry om jou God te wantrou, te sondig en om jou van Hom te steel.
 
Jesus is op 'n keer die woestyn ingelei om getoets te word. Net so kan ons ook nie van die listigheid van die duiwel ontsnap nie. En ons kan hom nie op ons eie uitoorlê nie. Ons het ons medesoldate in God se leër van Christene nodig om ons te help om hierdie stryd te stry.
 
Dit is om die minste te sê, skrikwekkend. Ons almal word geroep om te veg. Satan gaan jou verhoudings, gesin, vriende en alles wat vir jou belangrik is, aanval. Hy gaan probeer om hulle wêreldsgesind te maak en dan probeer om hulle te mislei en seer te maak.
 
Gaan jy maar net toekyk hoe hy keer op keer daarin slaag? Of gaan jy die wapenrusting van God opneem en jou man staan?
 
Gebed: Hemelse Vader, ons loof U dat U ons uit die hand van ons grootste vyand red. Dankie dat ons ware vrede by U kan vind. Amen