Imogen Campbell
 
Skielik was daar saam met die engel 'n menigte engele uit die hemel wat God prys en sê: “Eer aan God in die hoogste hemel, en vrede op aarde vir die mense in wie Hy 'n welbehae het!” Lukas 2:13-14, 1983-vertaling
 
Tydens Jesus se geboorte was daar groot blydskap en die hemelse menigte kon nie stop om uiting aan hulle vreugde te gee nie. 'n Mens kan sê dit was in die sterre geskryf: vrede op aarde was onlosmaaklik verbind aan hierdie pasgebore baba en aan diegene in wie God 'n welbehae het.
 
Op daardie dag is 'n eeue oue profesie bewaarheid – die koms van die Vredevors na wie Jesaja 9:5 verwys: "Vir ons is 'n Seun gebore, aan ons is 'n Seun gegee; Hy sal heers, en Hy sal genoem word: Wonderbare Raadsman, Magtige God, Ewige Vader, Vredevors."
 
Die skaapwagters het getuig van die geboorte van die Vredevors. Hoe wonderlik dat God die geboorte van sy Seun geopenbaar het aan nederige skaapwagters wat in die nag oor hulle skape wag gehou het. Hulle was getuienisse van die koms van die Goeie Herder, wat tot in ewigheid oor ons siele sal wag hou.
 
Ons het reeds gesien dat Hy oor die vrede beskik wat Hy tot vandag toe nog aan ons gee. Vrede (shalom) was ook teenwoordig die keer toe Jesus vroegoggend aan die slaap was op die boot wat in 'n storm beland het (Markus 4:35-41). Die gesoute vissers was bang toe die boot deur die storm geteister word. Hulle het definitief nie vrede gehad nie.
 
Jesus het toe die wind bestraf en gesê: “Hou op! Bedaar!” en die wind en die golwe wat die boot rondgeslaan het, het stil geword. Op daardie oomblik het die dissipels uitgevind wie werklik in beheer van die heelal is. Jesus het ongestoord die storm beveel om te bedaar. Dit is duidelik dat selfs die natuur aan Hom onderdanig is.
 
Vrede is sy kenmerk. Die Jesus wat in die stofstrate van Nasaret, Kapernaum en oral in Galilea geloop het, het die stad van vrede, soos Jerusalem ook bekend was, op 'n donkie binne gery om vrede aan te dui. In Sagaria 9:9-10 lees ons: "Jubel, Sion! Juig, Jerusalem! Jou koning sal na jou toe kom. Hy is regverdig en hy is 'n oorwinnaar, hy is nederig en hy ry op 'n donkie, op die hingsvul van 'n donkie. Ek sal die strydwaens in Efraim vernietig, die perde uit Jerusalem uitroei. Die pyl en boog waarmee oorlog gemaak word, sal gebreek word. Die koning sal vrede vir die nasies afkondig en hy sal regeer van see tot see, van die Eufraat af tot in die uithoeke van die aarde."
 
Verder, na die opstanding toe die dissipels in 'n vertrek agter geslote deure bymekaar was, het Jesus in sy opgestane liggaam aan hulle verskyn. Die eerste woord wat Hy gesê het was "vrede", om presies te wees: "Vrede vir julle!" (Johannes 20:19)
 
Dit was meer as net 'n groet, Hy gee aan sy beangste groepie dissipels vrede. Van die begin, regdeur sy lewe op aarde en selfs na sy opstanding, word Hy met vrede geassosieer.
 
Gebed: Ons loof U o God, dat ons 'n God van vrede wat ons baie liefhet, kan aanbid. Ons is baie dankbaar dat Jesus gekom het om Homself vir ons sondes te offer sodat ons in vrede met U kan leef. Ons is nie langer vyande van God nie. Halleluja! Amen