Xanthe Hancox
 
Wees baie versigtig hoe julle lewe: nie soos onverstandige mense nie, maar soos verstandiges. Maak die beste gebruik van elke geleentheid, want ons lewe in 'n goddelose tyd. Moet daarom nie onverstandig optree nie, maar probeer te wete kom wat die Here wil dat julle moet doen. Efesiërs 5:15-17, 1983-vertaling
 
Paulus se woorde in Efesiërs is geskryf vir vroeë Christene wat groot morele en geestelike uitdagings in die Grieks-Romeinse wêreld van die eerste eeu beleef het. Afgodery, onsedelikheid en verskeie heidense rituele was algemeen, asook tempelprostitusie en feeste opgedra aan verskillende gode waar oormatige drankgebruik en sedeloosheid aan die orde van die dag was.
 
En dit was nie al nie. Christene is deur beide die Joodse godsdiensleiers en die Romeinse owerhede vervolg. Beide groepe het Christene se toewyding aan Jesus Christus as 'n bedreiging vir die samelewing beskou. Die druk om aan die heersende kultuur te voldoen, om aan afgodery deel te neem en hulle geloof in Christus te ontken, was baie groot.
 
Te midde van al hierdie uitdagings moedig Paulus gelowiges aan om nie onversigtig of onverstandig te leef nie. Hy spoor hulle aan om eerder versigtig, met onderskeidingsvermoë en doelgerig, te leef.
 
Vir ons, ongeveer 2 000 jaar later en wêrelde weg, is die boodskap steeds relevant. Ons kulturele konteks mag miskien verskil, maar die oorheersende beginsels van 'n wêreld wat bybelse waardes teëstaan en selfbevrediging, materialisme en morele relativisme bevorder, is steeds dieselfde. Soos die vroeë Christene beleef ons ook druk om ons geloof te kompromiteer en aan heersende sosiale norme te voldoen.
 
In reaksie op hierdie druk, word ons geroep om ons lewens deeglik te ondersoek. Leef ons verstandig in die lig van God se Woord? Bestee ons ons tyd en hulpbronne doelbewus volgens plan? Soek ons daarna om God in alle aspekte van ons lewens, ten styte van al die uitdagings en versoekings om ons, te verheerlik?
 
Laat ons nie moed verloor in die heersende duisternis nie, maar laat ons eerder ons lig voor die mense skyn. (Lees Matteus 5:14-16) Kom ons gryp elke oomblik aan om God te verheerlik en sy liefde en waarheid met diegene om ons te deel.
 
Gebed: Hemelse Vader, dankie vir u Woord wat ons lei en ons in wysheid onderrig. In 'n wêreld vol uitdagings en versoekings, help ons asseblief om versigtig te leef en die beste van elke geleentheid te maak om U te verheerlik. Gee asseblief dat ons lewens u liefde en genade sal weerspieël sodat ander U beter kan leer ken. In Jesus se Naam. Amen