Xanthe Hancox
 
Om ons lewensdae na waarde te skat – dit moet U ons leer, sodat ons 'n hart vol wysheid
 
Psalm 90 is 'n kragtige gebed van Moses waar hy oor ons menslike natuur en die ewige aard van God besin. "Tempus fugit", sê my pa altyd, wat natuurlik die Latyn vir "tyd vlieg" is. Die lewe is kort en tyd beweeg vinnig. Moses het maar net te goed geweet dat die mens se lewe verbyvlieg en hy vergelyk dit met groen gras wat in die môre afgesny word en teen die aand verlep is. (Psalm 90:5-6)
 
Hy besin verder oor die realiteit van sonde en die gevolg daarvan, en hy besef dat die lewe dikwels vol probleme en hartseer is. En dit is in hierdie konteks dat hy God vra om ons te leer om ons lewensdae na waarde te skat. Hy herinner ons daaraan dat die lewe kort is en dat dit belangrik is om verstandig te leef. Dit gaan nie net oor die aantal dae nie, maar oor hoe om elke dag te laat geld deur doelgerig en met vaste voornemens te leef.
 
Dink 'n bietjie na oor hoe jy jou dae spandeer. Is daar areas waar jy meer doelgerig kan wees? Besin oor die feit dat ons dae min en kosbaar is. Dink 'n bietjie hoe, deur in verhoudings te belê, ander te dien en jou verhouding met God te verdiep, jy jou tyd die beste kan benut.
 
Om verstandig en met wysheid te leef beteken dat jy dit wat werklik saak maak, prioritiseer. Dit mag beteken dat jy meer kwaliteittyd met geliefdes moet spandeer, mense in nood moet help of meer tyd in gebed en Bybelstudie moet deurbring. Laat die wete dat die lewe kort is jou motiveer om doelgerig en met vaste voornemens te leef.
 
Gebed: Here, leer my om my lewensdae na waarde te skat sodat ek 'n hart vol wysheid kan verwerf. Help my om op dit wat werklik saak maak te fokus en my tyd tot u eer te gebruik. Skenk aan my die wysheid om die regte besluite te neem en die moed om dit uit te voer. Dankie vir elke dag wat U aan my skenk. In Jesus se Naam. Amen