Louise Gevers
 
Jesus het sy dissipels nader geroep en vir hulle gesê: “Ek kry hierdie mense innig jammer, want hulle is nou al drie dae lank hier by My en hulle het niks om te eet nie. En Ek wil hulle ook nie sonder kos huis toe stuur nie, want hulle kan miskien op pad beswyk.” Matteus 15:32, 1983-vertaling
 
"So lank ons op hierdie aarde leef, moet ons lewens as Christene deur innige meelewing gekenmerk word," skryf Henri Nouwen. [vry vertaal] Hy het ongetwyfeld aan Jesus se feitlik tasbare meelewing gedink, die kenmerk van alles wat Hy gedoen het. Ek kan verstaan hoekom Nouwen die aanhaling hier bo geskryf het. Meelewing is ware liefde, die soort waarvan 1 Korintiërs 13 vertel. Waar Jesus ook al gegaan het, was dit sy deernis, sy meelewing met menslike lyding wat die verskil gemaak het – Hy het heelhartig gewerk om mense met fisiese, verstandelike of geestelike probleme te genees.
 
Hy het dissipels uit alle vlakke van die samelewing gekies om Hom te vergesel – selfs die een wat Hom sou verraai – en wanneer Hy na die skare gekyk het, was hulle nie net 'n gesiglose massa vir Hom nie, maar elke persoon was 'n individu met sy eie behoeftes. Jesus het altyd in die behoefte voorsien van die persoon wat na Hom toe gekom het, en ten spyte van maatskaplike, godsdienstige en politieke hindernisse was die Gees wat van Hom uitgegaan het so kragtig dat selfs die vrou wat agter Hom aangekom het en in geloof slegs sy kleed aangeraak het, genees is.
 
In vandag se teksgedeelte het Jesus teen 'n berg opgegaan en "baie mense het na Hom toe gekom met verlamdes, blindes, gebreklikes, dowes en nog baie ander, en hulle voor Hom neergesit. Hy het hulle gesond gemaak, sodat die menigte hulle verwonder het ... En hulle het die God van Israel geprys." (Matteus 15:30-31 Alles wat Hy moes doen het Jesus nie afgeskrik nie, Hy het net aanhou gee om in hulle behoeftes te voorsien.
 
Menslike lyding en nood het gemaak dat Jesus hulle innig jammer gekry het en sy aksies het altyd, wanneer Hy hierdie weerlose mense versorg het, sy Vader se hart weerspieël. Hierdeur het Hy aan die mense en sy dissipels God se diep medelye met 'n wêreld in nood geopenbaar en die belangrikheid van 'n "hart van vleis" (Esegiël 36:26) beklemtoon om sy werk te kan verrig.
 
Dit is dus geen verrassing dat nadat hulle drie dae daar was en die dissipels gedink het dat hulle klaar was, Jesus nog 'n behoefte geïdentifiseer en hulle byeen geroep het om vir die mense kos te gee nie. Hulle kos was op en Jesus wou hulle nie honger huis toe stuur en die kans waag dat hulle "op pad beswyk nie".
 
Die getroue Skaapwagter, nadat Hy hulle geleer en genees het, het nou bewys dat Hy ook oor hulle fisiese honger besorg is. Met sewe brode en “en 'n paar vissies” (Matteus 15:34) het Hy "vier duisend mans ... afgesien van die vrouens en kinders" (Matteus 15:38) gevoed en "almal het geëet en genoeg gekry. En die dissipels het nog sewe mandjies vol bymekaargemaak van die stukke wat oorgebly het." (Matteus 15:37)
 
Jesus het 'n getransformeerde skare huis toe gestuur. Beskik ons oor die meelewing wat harte en lewens kan verander?
 
Gelowiges, luister na Paulus se woorde: "Daarom, omdat julle God se uitverkore heiliges en geliefdes is, beklee julleself met innige meelewing, goedheid, nederigheid, sagmoedigheid en geduld." (Kolossense 3:12, 2020-vertaling) Kom ons maak 'n verskil.
 
Gebed: Here Jesus, u goedheid is bo ons begrip. Help my om mense deur u oë te sien en met u innige meelewing na hulle uit te reik, sodat U hulle lewens kan verander. Amen