Louise Gevers
 
Toe Jesus uit die skuit klim, het Hy 'n groot menigte mense daar gesien en Hy het hulle innig jammer gekry, want hulle was soos skape wat nie 'n wagter het nie. Hy het hulle toe baie uitvoerig begin leer. Markus 6:34, 1983-vertaling
 
Ons almal ken mense wat in nood is. In werklikheid is dit in ons land onmoontlik om nie massas mense raak te sien wat daagliks op straat is om werk te soek of moedeloos op die gras rond sit nie. Honger, desperate individue staan by verkeersligte en hoop dat hulle iets van motoriste sal ontvang, terwyl ander by kerke en ander organisasies om hulp aanklop.
 
So dit was baie frustrerend om na die Algemene Verkiesing berigte te sien van hoe die partye en leiers gekibbel het om posisies te verseker – vir so lank as dit ook al sou neem – eerder as om saam te fokus op hoe om die mense se dringende nood aan te spreek. Die ironie is dat hierdie politici verkies is op grond van hulle beloftes om te dien – 'n gees van gemeenskaplike besorgdheid eerder as 'n magstryd moes tog sekerlik prioriteit geniet, of hoe?
 
Hoe anders het Jesus nie sy besorgdheid oor die mense gewys nie. Hy het nooit opgehou om deur die diepte van die liefde en sorg wat Hy bewys het, mense aan te raak en te inspireer nie. Henri Nouwen het gesê: "Ons kan nie kwessies liefhê nie, maar ons kan mense liefhê, en mense se liefde openbaar aan ons hoe om die kwessies te hanteer." [vry vertaal] Miskien is dit die kern van die saak.
 
Die dissipels het van hulle sending teruggekeer en aan Jesus verslag gedoen, maar aangesien daar baie mense gekom en gegaan het, het hulle nie kans gekry om iets te eet nie. Jesus het gesien dat hulle moeg was en "Hy sê toe vir hulle: 'Kom julle alleen saam na 'n stil plek toe en rus 'n bietjie.' ” (Markus 6:31) – 'n goeie, gesonde plan – maar die skare in nood was desperaat om Jesus weer te hoor en hulle het voor Hom daar aangekom. Jesus stel onmiddellik die voorbeeld toe Hy die skare in nood innig jammer gekry en hulle geleer het.
 
Ons teksvers vir vandag: "Hy het hulle innig jammer gekry, want hulle was soos skape wat nie 'n wagter het nie", vertel op 'n aangrypende manier van Jesus se hart vir die mense. Al was daar 'n "menigte mense" het Jesus weerlose individue in nood, sonder begrip en rigting, raakgesien. Hy het sy en die dissipels se behoeftes eenkant toe geskuif ten einde die skare meer te leer oor die geregtigheid waarvan hulle meer wou weet. Maar dikwels, soos die geval met die Fariseërs, het "Hy ... hulle rondom Hom kwaad aangekyk en was diep bedroef oor hulle verhardheid." (Markus 3:5)
 
Ons moet ook ons harte en ons vermoë om met deernis vir ander om te gee, ondersoek. Hoe reageer ons op ander se nood, of dit nou familielede of diegene op straat is?
 
Wat is ons prioriteit?
 
Gebed: Liefdevolle Here Jesus, help my asseblief om u prioriteite ook my prioriteite te maak en leer my om mense lief te hê soos U hulle liefhet. Amen