Vers n dag - 18 April 2012
Opstanding maak jou van jou spesifieke roeping bewus
Quintus Heine
Rigters 18:3 Toe hulle by die huis van Miga kom, het hulle die stem van die jongman, die Leviet, herken en daar ingedraai. Hulle het hom gevra:Wie het jou hierheen gebring? Wat doen jy hier? Hoekom is jy hier?
Dalk moet jy ook van tyd tot tyd hierdie vrae van Rig 18:3 beantwoord: Wie het jou hierheen gebring? Wat doen jy hier? Hoekom is jy hier?
Jy is nie maar waar jy is sonder rede nie. Die Here het jou tot op hierdie punt gebring. Die vraag is, besef jy en ek dit en weet ons wat wil die Here met ons lewens bereik?
Vir alle gelowiges het die Here ‘n algemene roeping : Ons moet die Here loof en dien, ons bes te doen, ons naaste diensbaar wees en getuig, enovoorts.
Die Here het egter ook vir elke gelowige as individu ‘n spesifieke roeping, wat net vir jou bedoel is.
Hoe gaan jy weet wat is jou spesifieke roeping? Jy moet dit werklik by die Here gaan soek: As ons na die voorbeelde in die Bybel kyk, sien ons dat daar riglyne is hoe ons die spesifieke roeping kan raaksien:
1. ‘n Mens se geestelike roeping is gewoonlik op ander mense gerig. Nêrens in Bybel is die mens se roeping op jouself en jou eie behoeftes gerig nie.
2. Elke mens het ‘n spesifieke en unieke roeping wat van die ander verskil.
3. Jou roeping is nie onveranderlik nie. Dit kan verander soos jou omstandighede verander.
4. Jou roeping ontdek jy dikwels eers as jy deur ‘n swaarkry-proses gegaan het. Dis asof die Here deur swaarkry soms baie hard met ons praat. Rom 5 help ons hiermee.
5. ‘n Mens se persoonlike roeping word al hoe duideliker as jy nader aan God leef!
6. Jy hoor die Here se stem duideliker as jy 'n lewenstyl van gebed het en baie tyd met die Bybel deurbring.
Soek vandag jou roeping voor die Here: Wie het jou hierheen gebring? Wat doen jy hier? Hoekom is jy hier?
(Coenie Burger se boek “Ontmoetings met die lewende God “ handel oor jou spesifieke roeping.)
Gebed: Here help my om te verstaan watter spesifieke roeping U vir my het.