Vers n dag - 17 April 2012
Die opstanding maak ons dat ons vrygewig omgee
Quintus Heine
2 Kor 8:2 “Al was hulle swaar beproef deur verdrukking, hulle blydskap was oorvloedig; en al was hulle arm, hulle was ryk in hulle oorvloedige vrygewigheid.”
Die hoop wat Christus deur sy opstanding aan ons geskenk het maak dat ons kan omgee. Ons het elkeen ‘n verantwoordelikheid om die nuwe vryheid wat Jesus ons gee, die vryheid van Hoop, aan ander te skenk!
Hoe doen ‘n mens dit? Deur vir mense wat jou pad kruis hoop te gee!
Dink vir ‘n oomblik, maak jy ‘n verskil in mense se lewens?
Charles Schulz die skrywer van die Peanuts strokiesprente het die volgende geskryf:
Vra jouself die volgende vrae af:
- Noem die 5 rykste mense in die wêreld?
- Noem die 5 mense wat die afgelope paar jaar Mej Amerika (of Mej SA) was?
- Noem 5 mense wat al die Nobelprys gewen het?
- Noem al die beste akteurs en aktrises (Oscar –toekennings) van die afgelope 10 jaar?
Hierop sê hy dat mense baie moeilik die vrae sal kan beantwoord omdat ons moeilik die prestasies van die verlede onthou! Al was mense in die verlede die beste in hul kategorieë, vergeet ons hulle prestasies. Die applous vir hierdie presteerders verdwyn en soms gaan hulle maar eensaam dood! Hulle sertifikate is later net vir hulself om te aanskou!
Hy sê daar is egter ‘n ander paar vrae wat ons makliker gaan beantwoord:
- Noem ‘n paar onderwysers wat ‘n invloed op jou lewe gehad het?
- Noem 3 vriende se name wat jou al deur moeilike tye gehelp het?
- Noem 5 mense wat jou iets geleer het in jou lewe om te onthou!
- Noem 5 vriende wie se geselskap jy baie geniet?
Hoekom sal die meeste van ons hierdie vrae makliker kan antwoord?
Omdat dit mense was wat jou lewe verander het of vir jou hoop gegee het!
Die mense wat ‘n verskil in jou lewe maak, is nie hulle wat die beste prestasies in die samelewing gemaak het nie ! Die mense wat jy onthou, is die mense wat vir jou omgegee het!
Ons moet leer om ‘n verskil in mense se lewens te maak. Ons gaan dit egter slegs regkry indien ons geleer het om om te gee en aan verhoudinge te bou. Dit is belangriker oor hoe jy mense oor hulself laat voel, as om altyd reg te wil wees.
Gebed: Here help my om so om te gee vir ander dat ek Jesus se hoop vir hulle kan aangee.