Louise Gevers
 
Toe het hulle in hulle nood na die Here om hulp geroep; uit hulle benoudheid het Hy hulle gered. Psalm 107:6, 2020-vertaling
 
Ons kleindogter was nog 'n babatjie toe sy reeds geweet het hoe om haar behoeftes te kommunikeer en hulp te kry. Eers was dit deur gebaretaal wanneer sy melk wou hê en later het sy woordjies begin gebruik om vir hulp te vra. Met beide ouers tuis gedurende Covid het Audie vinnig leer praat, en dit was lieflik om die stemmetjie te hoor sê: "Help! Ek het hulp nodig!" en wanneer jy dan omdraai te sien dat sy probeer om by die trap af te kom of onseker sit en probeer om nie van iets af te val nie.
 
Psalm 107 vertel ons dat ons uit ons diepste nood na die Here om hulp kan roep en kan weet dat Hy sal antwoord. Dit is 'n Psalm ter viering van die Israeliete se terugkeer uit Babilon, en dit begin met blydskap en dankbaarheid: "Dank die Here, want Hy is goed; ja, vir ewig duur sy troue liefde”. (Psalm 107:1) Regdeur getuig dit van waardering vir dit wat God vir hulle gedoen het en word die oneindige goedheid wat Hy aan hulle bewys het, erken. Dwarsdeur die psalm weerklink hulle lofprysinge tot God soos 'n pragtige refrein.
 
Toe hulle, nadat Jerusalem verslaan en die tempel vernietig is, deur die Babiloniërs weggevoer is, het hulle bitter gely. Hulle het in ballingskap gehuil: "Aan die riviere van Babel, daar het ons gesit en gehuil wanneer ons aan Sion dink." (Psalm 137:1) Vir 70 jaar het hulle tot God om hulp geroep. Terug in hulle land, was hulle diep dankbaar en gevul met ontsag omdat Hy hulle deur genade gered het.
 
Die psalm beskryf die verskillende vorme van lyding wat baie Israeliete verduur het. Dit vertel van diegene wat honger, dors en uitgeput in die woestyn rondgedwaal het, verlore in 'n barre wildernis – tog het God hulle gehoor en geantwoord: "Hy het hulle op 'n gelyk pad gelei om na 'n stad, 'n woonplek, te gaan." (Psalm 107:7)
 
Die psalmdigter beskryf dan die behoeftes van die gevangenes "wat in donkerte en digte duisternis gesit het ... in ellende en ysterboeie", (Psalm 107:10) diegene wat "teen God se woorde in opstand was en die raad van die Allerhoogste verontagsaam het." (Psalm 107:11) Alhoewel God hulle laat swaarkry het, het Hy, toe hulle in hulle nood tot Hom geroep het "... hulle uit donkerte, uit digte duisternis gelei; hulle boeie het Hy stukkend gebreek." (Psalm 107:14)
 
Diegene wat "dwase [geword] het, deur hulle pad van oortreding en deur hulle sondeskuld, hulle eie teistering veroorsaak [en] ... tot by die poorte van die dood gekom [het], (Psalm 107:17-18) het "Hy met 'n enkele woord gesond gemaak, hulle aan die dood laat ontkom" (Psalm 107:20) toe hulle Hom aangeroep het. Hulle het Hom geprys met "dankoffers en met jubelkrete van sy dade vertel." (Psalm 107:22)
 
Die laaste groep wat beskryf word, is die seevaarders wat God se mag aanskou het in die storms wat hulle beleef het. Hulle het "in hulle nood na die Here om hulp geroep" (Psalm 107:28) want "... in die ramp het hulle moed hulle begewe. Hulle het rondgeslinger, en gesteier"; (Psalm 107:26b-27) en "Hy het die storm stil gemaak en die golwe het bedaar ... Hy het hulle gelei na die hawe waarna hulle verlang het." (Psalm 107:29-30)
 
Gee dit nie vir ons hoop as ons besef dat ons onsself hier kan erken nie? Dit was nie net die Israeliete wat rebels was en 'n behoefte aan hulp gehad het nie. Ons dwaal dalk ook in die wildernis, honger en dors na geregtigheid met 'n behoefte om verlos te word; of gevangenes van verslawing wat nodig het dat die kettings verbreek word; of ons beleef storms wat slegs Jesus kan stil maak. As ons nie deur Jesus in 'n regte verhouding met God is nie, of Hom nog nooit as Verlosser ontmoet het nie, is ons in ballingskap. Maar Hy het ons lief, Hy sal hoor as ons in nood tot Hom roep en ons van ons probleme verlos.
 
"Hy het hulle op 'n gelyk pad gelei ... uit digte duisternis gelei ... sy woord gestuur en hulle genees; Hy het hulle laat vrykom uit hulle vangkuile; Hy het die storm stil gemaak en die golwe het bedaar ... Hy het hulle gelei na die hawe waarna hulle verlang het." (Psalm 107:7,14,20,29-30)
 
Gebed: Hemelse Vader, dankie dat U my hoor wanneer ek in my diepste nood na U om hulp roep Amen