Leef voluit: Erken Jesus is aan die werk - 10 Julie 2024
Louise Gevers
Jesus sê toe vir hulle: “'n Profeet word oral erken behalwe in die plek waar hy grootgeword het, en in sy familiekring en sy gesin.” Markus 6:4, 1983-vertaling
Elke ouer wat die verhaal lees van hoe Jesus Jaïrus se dogtertjie uit die dood opgewek het, (Markus 5:22-42) kan nie anders as om deur die aangrypende situasie beïndruk te word nie. As dit in 'n film afgespeel het, was Jesus die held want, in werklikheid sou daar sonder Hom heel waarskynlik nie so 'n gelukkige einde gewees het nie. Selfs toe daar mense van Jaïrus se huis gekom het met die nuus dat die dogtertjie dood was, het Jesus hulle geïgnoreer en vir Jaïrus die beste raad ooit gegee: “Moet jou nie ontstel nie. Bly maar net glo!” (Markus 5:36)
Ten spyte van die nuus dat hulle dogtertjie dood is, moes haar ouers tog in hulle harte weer gehoop het want hulle het reeds Jesus se werke gesien – en Hy het hulle nie teleurgestel nie. Sy woorde het hulle gerusgestel, nie omdat Hy vol van sy eie belangrikheid was nie, maar omdat Hy gepraat het van sy sekerheid dat God se krag in Hom werk. Hy het met gesag gepraat en die gesin met deernis hanteer toe Hy hulle kind uit die dood opgewek en die huilende roubeklaers stilgemaak het.
Na hierdie, en ander wonderwerke wat Jesus gedoen het, het Hy heel waarskynlik met verwagting uitgesien na sy tuiskoms en Hom voorgestel dat al die bekendes met blydskap sou getuig van sy Vader se krag wat in Hom en ook onder hulle aan die werk is. Selfs vir Jesus moes dit 'n groot skok gewees het dat die mense Hom in hulle hoogmoed en ongeloof verwerp het – selfs na hulle verwonderd was oor sy woorde toe Hy die mense op die Sabbat in die sinagoge geleer het. Hulle het Hom erken as die "timmerman, 'n seun van Maria en die broer van Jakobus, Joses, Judas en Simon ... Die mense wou niks van Hom weet nie." (Markus 6:3)
In werklikheid, het hulle hulle geloofsarmoede duidelik gewys. Hulle het op Jesus neergekyk as gevolg van sy nederige afkoms waar Hy in hulle gemeenskap opgegroei het. Hulle het Hom verwerp alhoewel Hy nou met groot wysheid gepraat het. Aangesien God se boodskapper hulle nie aangestaan het nie het hulle God se boodskap verwerp – die boodskap van lewe wat tot verlossing sou lei.
Geen wonder dat Jesus "verbaas [was] oor die ongeloof van die mense" (Markus 6:6) en "Hy kon daar geen enkele wonderwerk doen nie, behalwe dat Hy sy hande op 'n paar siekes gelê en hulle gesond gemaak het." (Markus 6:5) Hulle reaksie op Jesus het hulle geloof nog armer gemaak want hulle het baie min van die wonderwerke waartoe Hy in staat was, gesien.
Erken ons dat ons leraars boodskappers van God is en luister ons met respek, opgewonde om te hoor wat God vir ons wil sê, deur wie ook al Hy op die kansel plaas? Sê ons saam met Jeremia: "Ek het u woorde verslind toe hulle gekom het, hulle was vir my 'n vreugde ..." (Jeremia 15:16)? Of vergeet ons dat hulle God se Woord uitdra en luister dan nie wat Jesus vir ons deur hulle sê nie?
Onthou God kyk altyd na die hart – hulle en ons s'n – en Hy voorsien: "Maar Jesus sê vir hulle: “Ek is die brood wat lewe gee. Wie na My toe kom, sal nooit weer honger kry nie, en wie in My glo, sal nooit weer dors kry nie." (Johannes 6:35)
Gebed: Here Jesus, verdiep asseblief my geloof en help my om te erken dat U aan die werk is, selfs op plekke waar ek nie verwag om U te vind nie. "Leer my om u wil te doen, want U is my God! Laat u goeie Gees my op 'n gelyk pad lei." (Psalm 143:10) Amen.